Indiese spreeu, vriend of vyand?
Deur Morne Carstens
Luise, ‘n stank, voëlmis, siektes – weereens die werk van die Indiese spreeu.
In deel een het ons na die agtergrond van die Indiese spreeu in Suid-Afrika gekyk. Hierdie week fokus ons egter op die impak van hierdie voël op ons natuurlike ekosisteme, asook op die mens.
Navorsing en menige ooggetuies vertel van Indiese spreeus wat inheemse voëlspesies aanval en selfs hul eiers uit hul neste gooi. Algemene intersepsie interaksies is al tussen die Indiese spreeu, gewone tortelduif, bonthoutkapper en verskeie ander spesies waargeneem.1 Indiese spreeus sal ook enige voël teiken en verdryf wat naby hul nes kom. Dit is dus duidelik dat die uitheemse Indiese spreeu druk op die natuurlike bevolkingsaanwas van inheemse voëlspesies plaas.
Behalwe vir die impak van dié spreeu op ons voëllewe, blyk dit ook dat die Indiese spreeu reeds besig is om nie-kwaaddoenende insekte te vernietig; in plaas van die probleem-insekte waarvoor dit oorspronklik aangeskaf is.
Volgens kenners by Onderstepoort veeartsenykunde departement is daar al gevalle aangemeld waar Indiese spreeus die oë van ons inheemse verkleurmannetjies uitgepik het.
Indiese spreeus leef hoofsaaklik van insekte. In gebiede waar insekte egter skaars is sal hul ook vrugte en ander afval vreet. Vrugteboere mag dus ook skade ly onder dié probleem-voël.
Dit is ook bekend dat ‘n virus soortgelyk aan die gevreesde Hanta virus wat in muis- en rotmis voorkom, ook in die Indiese spreeu se mis gevind kan word.2 Hierdie siektetoestand het hemorragiese koors tot gevolg, wat die simptome soos respiratoriese nood, kardiovaskulêre ineenstorting, nierversaking en selfs naarheid en braking kan veroorsaak.
Laastens is Indiese spreeus ook bekend daarvoor dat hulle voëlmyte versprei, hierdie myte kan maklik ‘n huis binnedring en `n ernstige vel irritasie veroorsaak. 2
As ons dus na bogenoemde kyk is dit duidelik dat die Indiese spreeu ‘n opperste pes is. Dringende aksie word genoodsaak om iets aan die eksponensiële bevolkingsgroei van hierdie spreeu te doen!
Verwysings:
1. The distribution and spread of the invasive alien common myna, cridotheres tristis L. (Aves: Sturnidae), in southern Africa, deur Derick S. Peacock; Berndt J. van Rensburg Mark P. Robertson.
2. Common or Indian Myna inligtingstuk uitgegee deur Departement van Omgewinsake.