Hoekom is daar so baie motor ongelukke?
Wie van julle het al vroegoggend uit Thabazimbi na Northam se kant toe gery. As jy dit gedoen het sal jy sien daar is geen dissipline op ons paaie nie. Die stopstrate beteken “kyk of daar ‘n voertuig kom moenie stop nie”, dan is daar die slim motoris wat jou op die linkerkant verbygaan en sy voertuig se gô probeer uit ry om tog net voor jou te kan indruk. Die dubbele witlyn naby Kumba “beteken gaan die ou voor jou verby” sodat jy moontlik ‘n ongeluk kan veroorsaak weereens geen dissipline. Al hierdie oortredings beteken net een ding: daar is geen dissipline op ons paaie nie.
Oor die naweek het daar ‘n polisievoertuig met ligte aan my amper van die pad gery, om net by die Total Motorhawe by Pick n Pay te gaan inkopies doen. Waar is die dissipline weereens?
Voordat daar nie selfdissipline gaan wees nie, gaan daar net nog meer mense op die paaie sterf. Om die dissipline op die paaie reg te kry sal die verkeerspolisie ook moet dissipline aan die dag lê om absoluut geen nonsens op die paaie te duld nie en geen omkoop geld te aanvaar nie.
Kan ons verkeersdepartement nie vir ons reël dat die verkeerspolisie bietjie vroeër opstaan nie kom ons sê dat hul van so 04:30 bietjie gaan kyk hoe die Thabazimbiërs in die oggend die wet verkrag.
Kom ons kry die dissipline in Thabazimbi op ons paaie reg en begin ry soos voorbeeldige Suid-Afrikaanse burgers en stel ‘n voorbeeld vir die res van Suid-Afrika. Moet asseblief nie dat die, traak-my-nie-agtig en kom ons breek die wet, houding van die res van Suid-Afrika ook hier pos vat nie.
Onthou die regering wil nie regtig hê daar moet dissipline in die land wees nie, want dan sal daar te maklik vinger na hulle gewys kan word. Waarom anders is lyfstraf in skole afgeskaf, dit het wondere vir ons beteken ‘n brandende boud het jou twee maal laat dink voor jy weer aanjaag. As jy van vroeg in jou lewe geleer word wat is dissipline sal jy nie soos ‘n “hooligan” op ons paaie ry nie veral nie as dit toe gepas word soos dit moet nie.
Frik