Groot hartseer by Laerskool Vaalwater ná gru-ongeluk
VAALWATER – Laerskool Vaalwater en die gemeenskap is in rou gedompel ná ’n gru-motorongeluk wat die lewe van een van hul leerders geëis het.
Die motorongeluk het om ongeveer 20:50 op Vrydag, 20 Julie, op die deurpad tussen Lephalale en Vaalwater, net buite Vaalwater, gebeur.
’n Swaarvoertuig wat op pad terug vanaf Lephalale was en ’n Ford Ranger-bakkie wat vanuit die dorp gekom het, het mekaar reg van voor getref. Tydens die botsing het die dubbelkajuitbakkie waarin daar vier insittendes was, twee volwasse mans en twee seuns, onder die swaarvoertuig beland.
Die twee volwasse mans, mnre. Ian Meadon en Jaco Berninie van Springs is op slag dood. Een van die seuns, Tristan Meadon (10) van Laerskool Vaalwater, is ook op slag dood. Die ander seun, José Berninie, het nog ’n polsslag gehad.
Die deur aan José se kant moes afgeskeur word sodat die noodhulpmense hom kon bereik. Ná ’n groot gesukkel is hy later uit die wrak verwyder en kon mediese hulp aan hom verleen word. Hy is per ambulans na die Montana-hospitaal in Pretoria geneem.
Die res van die oorledenes was só vas in die wrak dat hulp ingeroep moes word om die liggame uit die wrak verwyder te kry. Die bestuurder van die swaarvoertuig kon nêrens op die toneel gevind word nie. Daar word vermoed dat hy weggehardloop het.
Teen druktyd was José se toestand stabiel en was hy nog in die hospitaal in ’n koma. Hy het bloeding op die brein opgedoen en ’n ribbebeen het deur sy long gesteek.
José se pa, wat op die ongeluk oorlede is, laat ’n vrou en twee stiefdogters agter. Mnr. Ian Meadon laat ’n vrou, en drie kinders agter. Tristan was die enigste kind van mnr. Gideon Thiart en me. Monica Meadon. — LiN Nuus/Die Pos