Golden Breeders doen dit in styl
MODIMOLLE – Golden Breeders het dit reg gekry om Wildveilings se standaarde weereens te skuif. Kopers en nuuskieriges het in groot getalle, en met groot afwagting opgedaag by die nuwe Castle de Wildt Veilingskompleks. Dat die Castle de Wildt Veilingskompleks enige in sy soort in die land is, kan niemand oor stry nie. Die hele plek is vol groot olieverf skilderye van skaars wild, spesiaal vir die kompleks geskilder. Pragtige leer stoele met massiewe tafels, kaggels wat brand, en waterfonteine wat spuit dra alles by tot die unieke atmosfeer van die plek. Die massiewe veilingslokaal het genoeg plek dat kopers en belangstellendes, by ’n tafel kan sit en deelneem aan die veiling, terwyl daar lekker geëet en gekuier word.
Hierdie ongelooflike atmosfeer het bygedra tot die top pryse wat vir uitstaande diere behaal is.
Altesaam vier nuwe rekord pryse is behaal.
Vier Swart Rooibok ooie is vir R255 000 stuk verkoop. Die vorige rekord was R240 000 stuk. 20 Swart Rooibok ooie is aangebied en teen ’n gemiddelde prys van R230 500 stuk verkoop. Die Swart Rooibok ramme se gemiddelde prys was R205 000, terwyl R260 000.00 die hoogste prys is wat vir ’n Swart Rooibok ram behaal is. ’n Bosbok ram met 2 ooie is vir R13 500 stuk verkoop. Die vorige rekord prys was R12 000. ’n Split Wildebees koei met haar goue verskalf is vir R375 000 stuk verkoop. Die hoogste prys wat al voorheen vir ’n split Wildebees koei betaal was, is R240 000. Een Swart Rooibok rammetjie is saam met 5 split rooibok ooie vir R60 000 stuk verkoop. Die R60 000 vir split rooibok ooie is ook ’n nuwe rekord. Dat daar nuwe lewe in die Njala pryse is was duidelik in die goeie pryse wat vir die diere behaal is. Dertig Njala ooie verkoop teen R10 334 stuk gemiddeld, terwyl die hoogste prys vir hulle R12 000 stuk behaal het. Die hoogste prys vir ’n Njala bul was R24 000. Die aanvraag na Swartwitpens verse bly hoog. Matetsi verse behaal R274 524 gemiddeld. Twee dragtige verse word vir R310 000 stuk verkoop. Matetsi/Zambiese swartwitpens verse behaal R370 000 stuk, en verkoop vir R345 555 gemiddeld.
Volgens Niel Swart van Vleissentraal Bosveld, wat die veiling aangebied het, was die R575 000 stuk gemiddeld wat vir die 11 Goue Wildebees bulle behaal is, ’n goeie aanduiding van waar die diere se prys tans is. Die hoogste prys van R800 000 is vir ’n goue Wildebees bul behaal. ’n Dragtige goue Wildebees koei behaal R700 000, terwyl dragtige verse se gemiddeld R590 625 was. Twintig, 6 maande oue split wildebees verse, verkoop teen R61 250 stuk. Die hoogste prys vir hierdie jong split verse was R70 000. Vyf en veertig uitsoek wildebees koeie, dragtig van goue wildebees bulle, behaal R31 056 stuk gemiddeld, met R42 500 die hoogste vir sulke koeie.
Die totale omset vir die veiling was R31.3345 miljoen.
Dat dit ’n wonderlike dag vir die hele familie was, is verseker. Vleissentraal Bosveld bedank almal vir hulle ondersteuning.