Geliefde inwoner oorlede
THABAZIMBI – ‘n Bekende en geliefde inwoner van Thabazimbi, Anne Pienaar (50) is op Saterdag 21 Julie 2012 in ‘n voertuigongeluk op die pad tussen Thabazimbi en Northam oorlede.
Anne was sedert 1983 ‘n inwoner van die Bosveld toe sy en haar eggenoot, Schalk Pienaar, hulle eers op Swartklip en toe op Northam gevestig het.
Anne was vir ‘n tydperk Schalk se sekretaresse waarna sy op Northam vir die ou Buite Stedelike Raad begin werk het wat later by die Munisipaliteit ingeskakel het en waarna Anne ook oorgeplaas is na Thabazimbi. Die egpaar is sedert 1996 inwoners van Thabazimbi. Anne was nie net bemind vir die diens wat sy gelewer het aan die gemeenskap nie, net by haar werk nie, maar ook as gevolg van haar opbeuringbesoeke aan baie oues van dae en haar diens by die Helpende Hande Kankerpasiënt vereniging.
Die gemeenskap, haar eggenoot en vier kinders Stefan, Schalk, Christo en Marie wat almal op Thabazimbi skoolgegaan het en vriende en familie betreur haar verhuising na daar waar sy weer in groot vreugde ontvang word. Die gesin, vriende en familie bedank graag almal wat tot dusver ondersteuning gegee het en goeie wense gestuur het en versoek dat alle bydraes wat aangebied is kontant/EFT gegee kan word aan die Helpende Hande Kankerpasiënt vereniging met kontakpersoon Rykie May 082 602 4379.
Anne se begrafnisdiens vind plaas op Saterdag 28 Julie om 11:00 vanuit die AGS Kerk Thabazimbi.
Anne Pienaar se heengaan op Saterdag 21 Julie laat ‘n groot leemte in die gemeenskap.