Community

Ds Kalfie vier 70 jaar

Deur Franco Loots

THABAZIMBI – Ds Kalfie Loots het op Sondag 22 Julie 2012 sy 70ste verjaardag gevier.

Hierdie besondere geleentheid het plaasgevind in die Nederduitsch Hervormde Gemeente Vliegepoort (Thabazimbi). Hy was vir agttien jaar voltydse predikant van dié gemeente, voordat hy presies vyf jaar terug op sy verjaarsdag geëmeriteer het.

Die erediens is bygewoon deur gemeentelede van baie van die vorige gemeentes waar hy as predikant gedien het, onder andere Klerksdorp-Oos asook die vorige Administrateur van die Hervormde Kerk, mnr Kobus Viljoen.

Ds Loots het die erediens waargeneem en gepreek uit een van sy gunsteling gedeeltes in die

Bybel. Hy het die skriflesing foutloos opgesê, sonder om uit die Bybel te lees. Die teks vir die prediking was Psalm 139:16 “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek

opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” Sy dogter, Ingemarí, het die orrelbegeleiding waargeneem en die gemeente het hartlik saamgesing.

Na afloop van die erediens het ds Hennie van der Linde opgetree as programleier. Oudl Willa Smit het ‘n gelukgewensing namens die gemeente en gemeenskap gedoen en uitgelig dat ds Loots altyd plek vir

humor maak. Sy vrou, Maryna, het die teenwoordiges vertel dat sy al met die eerste oogopslag geweet het dat sy met dié man sou trou. Hulle ken mekaar al langer as 44 jaar, dit is hoe lank ds Loots al in die

bediening is.

Ds Kalfie het geantwoord op die gelukwensings en het sy dank uitgespreek teenoor almal wat die geleentheid saam kon vier, veral die oud-gemeentelede wat groot afstande moes aflê. Vir hom is dit die

belangrikste om die Woord van die Here te verkondig. Hy is ook dankbaar vir die ondersteuning wat hy van sy vrou en kinders kry. Hy is tans werksaam as hulppredikant by Gemeente Vaalwater.

Na afloop van die verrigtinge in die kerk, is almal na die kerksaal genooi vir sop, wat deur sy eggenote asook familie gemaak is, saam met brood wat deur Thaba SuperSpar gegee is.

Ds Kalfie Loots het sy 70ste verjaarsdag saam met die Hervormde Gemeente Vliegepoort, familie en vriende op Sondag 22 Julie gevier.