Community

Beslaglegging op 1,9 hektaar wildsplaas

 

THABAZIMBI – Die valke, die nasionale vervolgingsgesag se batebeslagleggingseenheid en die departement van omgewingsake het Vrydagoggend 20 Julie op Jacques Els van Thabazimbi se bates en “wildplaas” ter waarde van ‘n beweerde R11 miljoen, beslag gelê toe sowat 35 mense, waarvan verskeie swaar gewapen in ‘n vloot voertuie by Doornhoek 135, ‘n plot net buite Thabazimbi opgedaag het. Christie, Els se eggenote, was op daardie stadium alleen met die werkers op die eiendom.

Els dien tans gevangenisstraf van 10 jaar, waarvan twee jaar opgeskort is, uit nadat hy skuldig bevind is aan die onwettige besit, vervoer en handel met renosterhoring. Jacques was aanvanklik uit op borgtog van R300 000 en is drie weke gelede aangesê om sy gevangenisstraf  onmiddellik te begin toe Landdros Pat Cloete van die Makhado landdroshof, geweier het dat sy vertoë om die borgtog te verleng, aangehoor word.

Jacques is deur die media sowel as die “Limpopo Media Centre – Corporate Commununication SAPS” beskryf as ‘n wildboer van die Thabazimbi omgewing en daar is ook na hom as ‘n renosterstroper (poacher) verwys terwyl hy glad nie op ‘n klag van renosterstropery skuldig bevind is nie. Verder is Jacques ook glad nie ‘n wildboer nie maar ‘n professionele wildvanger van beroep. Hy is ook nie die eienaar van ‘n wildplaas nie.

Hy het tot twee jaar gelede ‘n aandeel in Pro-Cap Game Capturers gehad. Pro-Cap het klein-, groot- en skaarsspesiewild op kontrakbasis gevang en aan privaatwildeienaars asook die Nasionale Parke verkoop.

Op ‘n stadium het hy wel 11 renosters aangekoop wat op ‘n gehuurde eiendom geloop het. Hierdie renosters is onthoring en hulle horings was van die horings wat ter sprake was met sy vonnisoplegging. Die renosters is reeds geruime tyd gelede weer van die hand gesit.

Al die renosterhorings waarmee Jacques verbind is, is in September 2010, terwyl hy en sy aanstaande verloofde in die Kaap was waar hulle verloof geraak het, gesteel tydens ‘n inbraak by sy woning op die 1,9 hektaar plot op Thabazimbi. Die saak is by die polisie aangemeld. Netso het hy tydens die hofsaak skuld beken op die aanklagte waarop hy skuldig bevind is.

Sover dit die wildsplaas aan betref wat in mediaberigte genoem het, bestaan dit uit ‘n 1,9 hektaar plot net buite Thabazimbi wat Jacques in 2007 teen R1,6 miljoen aangekoop het. Volgens Christie, skuld hulle nog R1,2 miljoen op  die uitstaande verband. Sy het ook daarop gewys dat die “bondels geld”  – soos daarna in die media verwys is -wat in die kluis gevind is, bestaan het uit R40 000 wat deur haar ma aan haar voorgeskiet is toe Jacques beveel is om sy gevangenisstraf onmiddellik te begin uitdien. Die geld was om voorsiening te maak vir haar en haar minderjarige broer wat by haar bly, se daaglikse behoeftes asook die salarisse van personeel en die instandhouding van die perdestalle en die versorging van die perde op die perseel.

Volgens die SAPS media vrystelling het die beslaglegging van R11 miljoen, buiten die eiendom, verder uit die volgende bestaan: ‘n 2008 model Toyota Fortuner waarvoor Christie haar Corsa, wat sy tydens haar mondigwording as geskenk ontvang het, as inruiling aangebied het; ‘n 2009 model Toyota Hilux; ‘n 2010 model BMW R1200GS motorfiets; twee Bombadier quads (2004 en 2006 modelle onderskeidelik waarvan een tweedehands aangeskaf is); ‘n twee-plek perde sleepwa (wat deur die SAPD media vrystelling as ‘n “White Rhino box body gas bottle carrier” beskryf is); ‘n platbak waentjie asook verskeie huishoudelike items. ‘n Klein vissersbootjie met ‘n buiteboordenjin, wat Jacques vir visvang uitstappies op damme gebruik het, en dié se sleepwaentjie is ook verwyder alhoewel dit nie op die amptelike lys wat deur die SAPS vrygestel is genoem is nie. Daar is ook op aandele van maatskappye wat volgens Christie nie veel werd is en waarvan een van hulle totaal onbekend aan haar is, beslag gelê. Beide sy bankrekenings by Standard Bank en Absa Bank is ook gevries. Die saldo’s van die onderskeie bankrekenings is nie bekend gemaak nie.

Die beweerde R11 miljoen waarop beslag gelê is, het Els, volgens die Polisie woordvoerder, Brigadier Hangwani Mulaudzi, deur misdaad verkry, nieteenstaande die feit dat  die meeste aankope geskied het voor die gebeure waarop hy skuldig bevind is.

Christie het aan Kwêvoël gesê dat heelwat vrae gevra kan word oor hoe die media hulle mag gebruik het om ‘n emosionele saak van hierdie hele aangeleentheid te maak.

Senior Advokaat Piet van Wyk het hom intussen by Jacques se verdedigingspan aangesluit. Jacques het Maandag ook die petisie, waarin versoek word dat die uitspraak van Landdros Pat Cloete in die Makhado Landdroshof in hersiening geneem word, geteken. Die petisie is aan die Dringende Appelhof in Pretoria voorgelê.