Barry se uitdaging
THABAZIMBI – “Challenge accepted! “ Die laaste woorde van ‘n vriend voor sy vertrek na Kilimanjaro.
Min het ons geweet dat die uitdagings wat voorlê ook ‘n uitdaging vir ons gaan inhou.
Vier vriende pak die tog aan, op teen Kilimanjaro om ‘n droom te verwesenlik. Drie keer terug.
Jaco en Belinda Blignaut, Diana Odendaal en Barry de Lange het uiteindelik na maande se beplanning en uitsien geland in Moshi, ‘n klein dorpie aan die voet van “Berg Kilimanjaro”, of soos wat dit in die monde van avonturis bekendstaan “Kili”. Fisies en geestelik voorbereid om een van die grootste avonture in hulle lewe aan te pak, neem hulle, hulle stapstokke en rugsakke en begin die tog teen die berg op. Almal lei op een of ander stadium onder die simptome van hoogtesiekte. Hoofpyn, kortasem en ‘n verhoogde hartklop is stille vennote in hierdie stryd teen die natuur. Na drie dae se sterk stap en harde werk besef Barry dat hoogtesiekte sy tol geëis het en dat hy moet terugkeer na die basis kamp toe. Met die basis kamp in sig en rus naby, sluit Barry de Lange sy oë om te rus en in daardie oomblik stap hy oor in die ”ewige rus”. Ons vriend, Barry het die grootste uitdaging aanvaar.
Durf, moed, dapperheid en fokus het sy drie vriende gedryf om die tog op teen die berg te voltooi nadat hulle verneem het van sy afsterwe. In hulle harte was Barry saam en simbolies het hulle tyd bo-op Kilimanjaro ook die begin van ‘n nuwe era ingelei vir hulle en vir Barry.
Ons harte is seer oor die leë plek wat nou in ons lewens is, maar dankbaar vir die manier wat ons vriend sy Skepper tegemoet geloop het.
Barry sal onthou word as iemand wat ten alle tye alles voluit geniet het. Hy het geduik, valskerm gespring, gholf gespeel, staptogte en motorfietsritte aangepak , met oorgawe gewerk en onvoorwaardelik liefgehad. Hy het met toegewydheid sy Skepper gedien en nie geskroom om oor Sy genade te getuig nie. Barry se gemaklike glimlag en grappies het baie se dag opgekikker en hy het altyd tyd gehad om iemand te help en ‘n geselsie aan te knoop. Ek kan ook nie op die stadium dink aan ‘n straat in Thabazimbi waar jy nie ‘n ERA bordjie sien met sy foto op nie. Ons wat agter bly, kyk terug op ‘n lang, gemaklike vriendskap en herdenk kosbare herinneringe en geleenthede saam met Barry. Ons is dankbaar vir die tyd wat Barry ‘n deel van ons lewens was en sal verseker ook die laaste stille les en uitdaging onthou wat sy afsterwe ons geleer het: “Leef voluit, want jy het net vandag! “ Hierin lê die uitdaging waarvan ek vroeër gepraat het. Daar is belangriker dinge in die lewe as materiële besittings. Om voluit te leef, lief te hê en dit te geniet om jou doel uit te leef is slegs ‘n paar van hulle. Ek het baie lesse geleer deur my vriend en die ervaring sal verseker die res van my lewe uitstaan as ‘n herinnering aan elkeen van daardie lesse. My wens is dat elkeen wat Barry geken het die uitdagings en lesse wat ons uit sy lewe kon leer ter harte sal neem en met oortuiging kan sê ”challenge accepted!”. Dankie “Mater!”
Deur Johan Muller