General

AfriForum verwelkom plan vir renosterhoringverkope

AfriForum verwelkom die wettige verkoop van renosterhorings direk aan Chinese farmaseutiese maatskappye.

Volgens Julius Kleynhans, AfriForum se Hoof van Omgewingsake, sal dit wys wees om so ’n plan as ’n loodsprojek aan te pak. “Handel in renosterhoring kan ’n bydrae lewer tot bewaring en ekonomiese groei. AfriForum verleen sterk steun aan die voorstel, maar slegs indien handel beperk word tot die horings van diere wat aan natuurlike oorsake dood is,” het Kleynhans gesê.

“Wettige verkope van renosterhoring kan tot gevolg hê dat die mark oorspoel word, wat weer ’n dramatiese prysverlaging tot gevolg mag hê. Danksy die finansiële bydrae uit hierdie inkomstebron, mag pogings teen stropery toeneem en weens fluktuasies in die prys en verhoogde risiko sal die lewensvatbaarheid van onwettige handel dalk afneem.”

Na wat berig word, sal die prys van renosterhoring deur ’n sentrale verkoopsagentskap beheer word met verkope wat vier keer per jaar by die OR Tambo-lughawe sal plaasvind. “Pryse moet heelwat laer wees as swartmarkpryse om so die vraag te kanaliseer na die Suid-Afrikaanse wettige horinghandel,” het Kleynhans gesê.

’n Voormalige hoof van omgewingsbeplanning by Ezemvelo KwaZulu-Natal Wildlife, Roger Porter, het aangedui dat die plan oor vyf jaar toegepas behoort te word om die impak daarvan te beoordeel. Hy het gesê dat die horings op dieselfde wyse verkoop sal word as wat diamante deur die De Beers Korporasie verkoop word.

Tot dusver is meer as 270 renosters vanjaar reeds vir hul horings afgemaai. Renosterhoring word gebruik vir tradisionele medisyne, en word hoofsaaklik in Asië verbruik.