AfriForum stig tak in Thabazimbi
LEEUPOORT – Die burgerregte-organisasie, AfriForum, stig op 17 Julie 2012 ‘n plaaslike tak in Thabazimbi. Dít kom nadat AfriForum verskeie klagtes oor swak dienslewering van die publiek ontvang het en die Thabazimbi-munisipaliteit versuim het om na die gemeenskap se belange om te sien.
Die takstigting sal by die Leeupoort-vakansieoord Woonwapark plaasvind en die vergadering sal om 14:00 begin.
AfriForum is besig om ’n nasionale voetspoor te vestig deur takke in gemeenskappe te stig. Dié organisasie het die afgelope jaar bykans 85 takke landwyd gestig en gemeenskappe só in staat gestel om swak dienslewering, korrupsie en ander wandade waaraan munisipaliteite hulle skuldig maak, teen te staan.
‘n Plaaslike AfriForum-struktuur in die dorp sal die gemeenskap toegang tot dié organisasie se regsverteenwoordigers en spesialiste op die gebied van plaaslike regeringsake gee.
“Die nuwe AfriForum-tak gaan vir dié gemeenskap ’n platform bied om hulle stem te laat hoor en só te verseker dat hulle burgerregte beskerm word,” sê Tiaan Esterhuizen, AfriForum se organiseerder in Gauteng.
“Kwessies waarop die tak gaan fokus, sluit plaaslike regering, gemeenskapsveiligheid en omgewingsake in. AfriForum kan nie alleen gelyktydig in elke dorp wees om te verseker dat daar nie inbreuk op mense se regte gemaak word nie. Die enigste oplossing is om ons lede deur takke te bemagtig en op te lei om daadwerklike veranderings in hul dorpe en stede aan te bring. AfriForum-takke skep vir gemeenskapsleiers die geleentheid om plaaslike regerings op hulle tone te hou,” sê Esterhuizen.
AfriForum is ‘n burgerregtegroep wat daarop toegespits is om minderhede in Suid-Afrika te mobiliseer en hulle regte te beskerm. Gemeenskappe kom toenemend onder druk weens die staat wat versuim om sy pligte teenoor die land se inwoners na te kom. Die gevolg hiervan is swak dienslewering en onveilige woonbuurte. Gemeenskappe moet hulle strate van misdadigers en onbeholpe stadsrade terugneem. Daarom het AfriForum besluit om die massa op grondvlak te organiseer en aan gemeenskappe hulle stem terug te gee.
Vir meer besonderhede, kontak Tiaan Esterhuizen – Organiseerder: AfriForum – Sel: 082 824 7297 – E-pos: tiaan@afriforum.co.za