General

95% van munisipaliteite se finansiële sake in chaos

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het sy kommer uitgespreek oor die ouditeur-generaal se verslag wat op Maandag 23 Julie in Johannesburg bekendgemaak is. Luidens die verslag voldoen slegs 5% van die land se munisipaliteite aan die vereiste standaarde. Geen metroraad het ’n ongekwalifiseerde oudit ontvang nie.

Volgens Cornelius Jansen van Rensburg, AfriForum se woordvoerder oor plaaslike regeringsake by AfriForum, blyk dit duidelik uit die verslag dat die staat nog geen werklike vordering gemaak het om die

bestuursonbevoegdheid in munisipaliteite te verander nie.

Van die redes wat die ouditeur-generaal vir die swak prestasie in die verslag aantoon, is dat daar ’n gebrek aan leierskap is en dat munisipale amptenare nie oor die nodige vaardighede beskik om die werk

te doen nie.

Wat AfriForum verder bekommer, is munisipaliteite se ongemagtigde en onreëlmatige uitgawes wat tot R11 miljard beloop.

Die verslag dui verder aan dat 84% van die munisipaliteite se rekeningkundige beamptes nie die nodige stappe gevolg het om die onreëlmatige besteding te stop nie.

Daarby is byna R600 miljoen se tenders aan raadslede en munisipale amptenare toegeken. Die ongerymdhede het met 46% toegeneem vergeleke met verlede jaar.

Die verslag se inhoud spreek vanself. Die feit dat munisipaliteite nie oor die vermoë beskik om dienste te lewer of om amptenare aan te stel wat gemeenskappe na behore kan bedien nie, plaas bykomende druk op gemeenskappe oor die land heen.

Burgerregte-organisasies soos AfriForum – wat munisipaliteite dwing om hul pligte na te kom en gemeenskappe mobiliseer om hulle regte op te eis – raak juis om hierdie rede van ál groter belang.

“Hierdie situasie is besig om die menseregte van miljoene Suid-Afrikaners te ondermyn. Die regering behoort die volle blaam vir die groeiende ineenstorting van derdevlakregering te dra,” het Jansen

van Rensburg gesê.