Einde van Helen Park?
NORTHAM – Die informele nedersetting by Northam, bekend as Helen Park, het die afgelope week ‘n kennisgewing van uitsetting van Thabazimbi Munisipaliteit ontvang.
Die kennisgewing, onderteken deur die nuwe Munisipale Bestuurder, Advokaat ME Ntsoane, stipuleer dat die grond waarop Helen Park bewoon word aan die Munisipaliteit behoort en hulle dus die grond onwettig betree. Die kennisgewing dui verder aan dat indien die inwoners van Helen Park, Gedeelte 2 van De Put plaas no 412 KQ, die gronde nie onmiddellik ontruim nie, die Munisipaliteit regstappe teen hulle sal volg. Die kennisgewing is ook in Setswana uitgereik.
Helen Park se inwoners het aan Kwêvoël berig dat hulle voel hulle word deur Thabazimbi Munisipaliteit geteiken en teen gediskrimineer.
Volgens die ontstoke inwoners het die ander informele nedersettings in die munisipale gebied soos Skierlik, Raputi en ander, nie soortgelyke briewe ontvang nie.
Hulle dink die redes hiervoor is dat die Munisipaliteit kan nie, of wil nie aan hulle die basiese dienste soos water lewer nie en dat die grootste persentasie van die gemeenskap die opposisie party ondersteun.
Die gemeenskap het nou ‘n brief aan die Munisipale Bestuurder gerig wat kortliks daarop neerkom dat hulle bereid is om te trek onder die volgende voorwaardes: Dat bewys gelewer word dat ander informele nedersettings soortgelyke briewe ontvang het en dat die Munisipaliteit ander grond aan hulle beskikbaar moet stel.
Indien enige van bogenoemde nie nagekom word nie, sal hulle nie trek en dit verder in die hof betwis.
Kwêvoël het raadslid Piet Strydom gevra of hy bewus is van die situasie. Hy het gesê dat die gemeenskap die twee betrokke briewe aan hom oorhandig het en hy voel die inwoners het ‘n sterk saak. “Wat vir my egter baie vreemd is, is dat van hierdie mense al ‘n paar jaar daar woon en die munisipaliteit het nog nooit voorheen ‘n probleem met hulle gehad nie. Die enigste rede waarom daar nou skielik ‘n probleem is, is dat sekere mense bedreig voel deur hierdie DA oorheersde gemeenskap.” Het raadslid Strydom aan Kwêvoël gesê.
Hy het Kwêvoël verder meegedeel dat die DA die situasie deeglik monitor en as daar onregmatighede of ongrondwetlik teenoor hierdie gemeenskap opgetree word, sal die DA as ‘n party wel betrokke raak om te verseker dat hierdie gemeenskap regverdig behandel word.
Deur Estie Taljaard
estie@kwevoel.co.za