DA-lid gedreig nadat sy boeke red

‘n Hoop bruikbare skoolhandleidings en storieboeke wat wag om vernietig te word by Mustec-onderwyskollege te Seshego.

SESHEGO – ’n Senior lid van die DA in Limpopo wat Maandag skoolboeke gered het voordat dit vernietig is, is op Woensdag 27 Junie, met inhegtenisneming gedreig.

Desireë van der Walt, DA-koukusleier in die provinsie, is op Woensdagmiddag lank aangehou by die Mustec-onderwyserskollege in Seshego, noordwes van Polokwane, waar die provinsiale onderwysdepartement boeke vernietig.

Van der Walt wou nog bruikbare boeke gaan haal om aan skole te gee. By ‘n vroeëre inspeksie het die DA duisende bruikbare boeke gevind, sommige boeke nog in hul oorspronklike verpakking was. Daar was hope storieboeke wat gebruik kon word om biblioteke by verarmde skole, wat geen lees materiaal het nie, aan te vul. Van der Walt het Maandag kratte boeke gaan oplaai en Woensdagmiddag daarvan aan die Lotonang Primary School, langs die kollege, oorhandig.

Veiligheidswagte het haar Maandag nie verhinder om van die boeke te verwyder nie.

Sy is Woensdagmiddag weer na die kollege toe, maar die veiligheidswagte wou haar egter nie laat ingaan nie. “Nadat ek uiteindelik toegelaat is, wou hulle my nie laat uitgaan nie.”

Die veiligheidswagte en personeellede van die kollege het gesê hulle het opdrag van die onderwysdepartement gekry om niemand toe te laat nie.

Van die personeellede het Pat Kgomo, woordvoerder van die onderwysdepartement, gebel. Hy het sowat twee uur later opgedaag en Van der Walt laat uitgaan.

“Hy het vir my gesê hulle moet my eintlik laat arresteer, want ek steel die boeke.”

Kgomo het glo ook vir haar gesê die departement gaan al die boeke wat sy Maandag verwyder het, terugvat. “Jy moenie hierheen kom met jou goedkoop politiek nie,” het Kgomo glo aan Van der Walt gesê.

Volgens die DA word publieke geld gespandeer om lees materiaal te vernietig in ‘n provinsie waar kinders by oor 5000 skole nog nie handboeke ontvang het nie. Die aflewering van boeke by hierdie skole is oor die sewe maande laat en ‘n hof sperdatum is ook reeds misgeloop.

’n Biografie van oudpresident Nelson Mandela en Shakespeare se Macbeth is van die boeke wat op hope lê en versnipper of verbrand gaan word. Daar is duisende vakboeke in Pedi, Engels en Afrikaans. Daar lê ook verskeie digbundels, inligtingstukke oor vigs en storieboeke.

Kgomo het vroeër by navraag gesê die boeke is deur skole aan die departement teruggestuur, want dit is oud en kan nie meer gebruik word nie. Dit is nie aangepas vir die nuwe kurrikulum nie.

“Is hierdie ‘n regering wat eerder iemand sal betaal om perfekte, bruikbare boeke te vernietig as om ons kinders geleerdheid te bied?”  Het Desireë van der Walt bekommerd gevra.

Bron: Beeld 28 Junie 2012.