MPO teleurgesteld en geskok oor onverwagse verlaging in produsentepryse

Die Melkprodusente-Organisasie (MPO) het met teleurstelling en skok verneem van die onverwagse algemene prysverlaging wat een van die grootste melkkopers in die land aangekondig het. Die betrokke melkkoper het gister bekendgemaak dat produsentepryse  met onmiddellike ingang tussen 50c en 75c per liter verlaag.

Mnr Dean Kleynhans, voorsitter van die MPO, sê met die inligting tot sy beskikking is dié skielike prysverlaging kontrasiklies en nie in lyn met heersende marktendense nie.

Hy doen daarom ’n dringende beroep op ander melkkopers om ter wille van stabiliteit in die melkbedryf en die toekoms daarvan nié hierdie melkkoper se voorbeeld te volg nie en om hulle verbintenis tot die bedryf te toon.

“Ons melkprodusente kom nou net uit ’n baie slegte tyd waarin pryse vir bykans vier jaar op besonder lae vlakke was. Produsentepryse het eers vanaf November 2011 weer begin herstel. Daarbenewens is produsente vir ’n geruime tyd al vasgevang in ’n erge kosteknyptang weens die deurlopende styging in die pryse van voer, brandstof en elektrisiteit.

“Indien sommige melkprodusente weens hierdie prysverlaging uit die mark moet tree, sal dit onder andere ’n direkte impak hê op voedselsekuriteit. In die lig van die verhoogde vraag na suiwel wêreldwyd en die feit dat suiwel steeds die goedkoopste bron van proteïene vir menslike gebruik is, hou melkproduksie tans nie tred met die vraag nie,” sê Kleynhans.

Die MPO se raad aan boere wat direk deur hierdie prysverlaging geraak word, is om in verbinding te tree met een van die vele ander kopers wat tans dringend op soek is na addisionele melk.

Kleynhans sê die MPO is besig met onderhandelings met die betrokke partye en onderneem om tot op die hoogste vlak vir melkprodusente te beding om die volhoubaarheid van die suiwelbedryf in Suid-Afrika te verseker.

Hy wys op syfers van die  Nasionale Landbou Bemarkingsraad wat toon dat suiwel oor die laaste jaar die laagste inflasiekoers getoon het in vergelyking met elke ander meetbare voedselkategorie. Volgens Kleynhans het suiwel ook weens ’n sameloop van omstandighede nie die prysverhogings geniet wat ’n produk met dié hoë voedingswaarde verdien nie. Suiwel se verhoging in kleinhandelpryse van Januarie 2011 tot Januarie 2012 was slegs 4,3%, teenoor brood en groente se 10,1%, vleis se 14,3% en vette en olies se 15,2%.

Kleynhans wys voorts daarop dat die MPO jaarliks miljoene rande spandeer in ’n poging om ontwikkelende boere te vestig en sê die moontlike uittrede van kommersiële boere kan dié pogings verder belemmer.