Entertainment

Tapas en Flamenco reg in die kol

Tanya van Dewside Restaurant (links) saam met Diana Odendaal wat die Spaanse tema voluit aangevat het.

THABAZIMBI – Thabazimbi kan nie in die vraag na ‘n verskeidenheid van restaurante soos Indies, Chinees, Meditireens, Frans, Thai en, noem dit wat jy wil, voorsien nie, maar wat wel moontlik is, is dat een restaurant al hierdie verskillende disse tydens spesiale geleenthede aan gretige smulpape kan bied.

A la carte is dit nie, maar elke tema het ‘n spyskaart so eg uit daardie landstreek. Iets om jou palet met ‘n dis uit hierdie lande te verfris, en so tussenin ook nog ietsie plaaslik soos ‘n heerlike beesstert of bobotie en rys asook groente so reg uit ouma se potte, te nuttig.

Dewside het Vrydagaand die eerste van hulle tema-aande met ‘n Tapas-ete so reg uit die wynlande van Spanje afgeskop. Sangria het gevloei en met die Flamenco musiek wat in die agtergrond gespeel het, kon jy net sowel in ‘n restaurant in Barcelona gesit het, buiten dat die voertaal nie Spaans was nie.

Tapas-restaurante begin baie gewild raak in die groter sentra, juis omdat dit so ‘n heerlike kuier-ete bied. Daar is afgeskop met gebraaide olyfbroodjies met ‘n keker-ertjie smeer saam met die tamatiesop. Die ete is daarna opgevolg met ‘n verskeidenheid van peuselhappies soos bees-sosaties, croquetas, Patatas Bravas, Empanadas (bief en hoender), varkvleisfrikkadelletjies, gebakte tamaties en olywe, asook ‘n wilde bosveld toevoegsel; gebakte krokkodil peuselhappies, (laasgenoemde so reg uit die kraal van die wennerpotresep van die afgelope wildspotjiekoskompetisie tydens die Thabazimbi Wildsfees.)

Dit alles is afgesluit met ‘n seekos paella en ‘n verskeidenheid van nagereg-happies. Dat die ete gewild was onder die gaste was nie te betwyfel nie.

Volgens Tanya Vorster, bestuurder van Dewside Restaurant, wil sy aan die publiek ‘n uiteet-ervaring in Thabazimbi bied en nooi sy diegene wat bereid is om op ‘n unieke manier saam met vriende en familie te verkeer, om die Kwêvoël dop te hou vir die volgende aanbieding.

Sondag se Vadersdagete gaan bietjie meer tradisioneel wees met T-beenskywe, Eisbein en beesfillet, saam met gebakte aartappels en ‘n gebakte groentedis en slaai. Brandewyn malvapoeding met vla en room rond alles af. Sien ook meegaande advertensie.

Huidig is Dewside restaurant en kroeg net tydens spesiale geleenthede of vir groepbesprekings oop.