Ons lesers skryf

Huurhuise

Ek sien op die webwerf in die 18 Mei Kwêvoël berig u oor die pryse van huurhuise. Inderdaad kan ek amen sê op die opskrif: “Dankie vir ons huisie en ’n warm bedjie …” Dit geld voorwaar dubbeld vir Postmasburg se huurders. Hoe klink R17 000 per maand vir ’n huurhuis? Dan het hierdie huis net die basiese geriewe soos 3 slaapkamers, 1 badkamer met toilet, aparte toilet, sitkamer, eetkamer (klein), klein studeerkamer, kombuis met nie minder nie as 3 los staalkaste, klein waskamer, enkel motorhuis en buitekamer op ’n groot erf waar mens niks kan plant nie omdat dit op ’n dolomietbank geleë is en die klippe te vlak.

Verder R11 000 vir ’n 3 slaapkamer huis met oopplan  sitkamer/kombuis, 1 badkamer waarin jy jou skaars kan draai met stort en aparte toilet en geen motorhuis of buitegeboue nie. Die heining is reg om die huis ongeveer twee meter van die huis af behalwe aan die een kant waar daar darem ’n afdak aan die huis is waar jy ’n motor kan parkeer.

So, as jy ’n dak oor jou kop het en ’n bed om in te slaap, wees dankbaar. Die middelklas met ’n gemiddelde inkomste kan nie sulke huurgeld bekostig nie.

Ek kry die mense jammer wat nie ’n maatskappy agter hulle het wat die werker tegemoetkom en help met die huur nie.

Wilhelmina Potgieter

Postmasburg