Gespesialiseerde Eenheid beskerm Waterbergdistrik

Die “Specialised Tactical Tracking Unit” bestaan uit, voor vlnr: Bruno, Pottie, Jaco, Gaffie en Arno. Agter vlnr: Rudi, Tumo en Juan.

THABAZIMBI – ‘n Gespesialiseerde taktiese eenheid, wat hul toespits op spoorsny gedurende renosterstropery en plaasaanvalle in die Waterbergstreek, is in 2011 op die been gebring.

Die span, wat bekend staan as STTU (Specialised Tactical Tracking Unit), bestaan uit ‘n groep individue wat hul kennis en ondervinding rondom spoorsny, toneelbewaring, die wetlike aspekte rakende kriminele oortredings asook hul tyd skenk om ‘n sowat 150km radius rondom Thabazimbi te bedien.

AO Jaco Havenga, ‘n lid van die SAPD in Thabazimbi, wat ook deel is van die STTU-span, stel dit duidelik dat die eenheid kragte saamsnoer met die plaaslike polisie en dien as hulpmiddel wanneer tyd van kardinale belang is.

Hul groot trots is die twee honde wat hulle in die stryd teen misdaad help. Bruno is ‘n Duitse Herdershond-kruising en Arno ‘n suiwer bloedhond. Hul hanteerders, Jako “Pottie” Potgieter en Gaffie het gemaklik met hulle gespog tydens ‘n demonstrasie wat hulle aan Kwêvoël op Maandag 4 Junie by die CVO sportveld gelewer het.

Bruno, ‘n opgeleide aanvalshond, word tans gehuur by ‘n Honde-eenheid maatskappy teen ongeveer R3000 per maand. Dit sluit sy basiese versorging, voedsel, mediese onkoste, verblyf en vervanging in.

Die eenheid maak tans gebruik van hul eie voertuie, selfone en fondse om die Waterbergstreek, insamewerking met die plaaslike polisiemag, te beveilig.

Hulle verwelkom egter enige befondsing, hetsy met toerusting, waarvan hulle sewe Garmin Rino’s benodig, spoorsny-toerusting, brandstof vir die voertuie en helikopters asook Bruno en Arno se onderhoudskoste.

Kontak gerus vir Jako “Pottie” Potgieter by 083 824 9400  indien u die eenheid finansieel wil ondersteun. Hulle bedank graag vir Johan Potgieter van Windscreen Pro wat onderneem het om Bruno se onkostes vir Junie-maand te borg.        ‘

n Besondere dank ook aan Lourens du Plessis en MG Van Greunen wat die Squirrel en R44 helikopters vlieg tydens ‘n voorval en Hannes Coetzee van Thaba SuperSpar wat die etes en water/koeldranke borg wanneer die manne op ‘n renosterstroper se spoor is.

By navraag oor die eenheid se doelwit, is die antwoord: Om die SAPD van hulp te wees met die opsporing van verdagtes op renoster stropery en plaasaanvalle, om die Waterberg distrik ‘n veiliger omgewing te maak vir die landelike gemeenskap sowel as ons renosters en sodat renosters oor 10 of 20 jaar nogsteeds in hulle natuurlike habitat besigtig kan word. Hierdie groepie mense is die manne wat hul vrouens en kinders in hul warm beddens agter laat om ‘n verskil te maak in ons land en om die boodskap oor te dra om nie moed te verloor nie.

Vir verdere navrae of inligting, kontak Pottie by 0838249400 of AO Jaco Havenga by 0833609698 of Rudi Janse van Vuuren by 082 445 0965.