VLU Vroue slaan voet

“Vroue voetslaan wêreldwyd” is die tema van die Wêreldbond vir Plattelandse vroue (WBPV) wat verlede Woensdag 16 Mei, ‘n hele optog net buite Modimolle op die Vaalwater-pad tot gevolg gehad het.

‘n Groep van byna 100 vroue, almal lede van die Vroue Landbou Unie Noord het tussen Weesgerus en die Dam Lapa gestap. Die oudste optogganger was 82 jaar oud. VLU-lede het hul takke verteenwoordig in veelkleurige uitrustings met baniere en klokkies.

Die optog is gehou as deel van ‘n internasionale bewusmakingspoging deur die WBPV waaraan verteenwoordigers van die sewe miljoen lede oor sewe kontinente gaan stap. VLU Noord-lede het hul 27 takke van regoor Limpopo verteenwoordig tydens die organisasie se jaarlikse provinsiale kongres.

“Ons is trots om deel te vorm van hierdie reuse poging,” vertel die presidente van VLU Noord, Tharina Rossel. “Die WBPV beywer hulle vir die opvoeding van volwasse vroue, die verbetering van lewensomstandighede van hierdie vroue en die fokus op belangrike kwessies in die lewens van vroue en kinders. VLU Noord is deel van hierdie groot poging en ons lede neem met ‘n wip in hul stap deel aan hierdie projek.”

Die WBPV se vise-president ook ‘n VLU-lid, Amphia Grobler, het die kongres toegespreek: “Die WBPV gee aan landelike vroue ‘n stem wat regoor die wêreld tot op die hoogste vlak weerklink.”

Die VLU Noord-lede het op Woensdag 16 Mei aan ‘n optog as deel van ‘n internasionale bewusmakingspoging deur die WBPV deelgeneem.

Deur Elana Greyling