Stop vir geen slang

Marie wys hoe sy voor die Cruiser (nie die een met die slang in nie) gespring het om dit tot stilstand te bring.

THABAZIMBI – Wat gedoen as jy in die ry sien hoe ‘n mamba langs jou op die sitplek tussen die pakkies met kruideniersware in jou rigting oppad is? Gaan jy stil hou of nie?

Dit is die besluit wat Marie Roets van Boere Slaghuis op Thabazimbi verlede week Woensdag moes neem.

Gelukkig was sy reeds op die grondpad oppad na hul plaas buite die dorp en het nie vinnig gery nie. Vir haar was daar net een uitweg, klim nou uit die Cruiser! Eers toe sy, onbeseerd in die pad staan het sy besef dat haar voertuig met slang en al steeds teen die pad afgeloop. Sy het die voertuig agterna gesit, ingehaal en met ‘n groot poging daarin geslaag dat dit tot stilstand te bring.

Daar was een probleem. Met haar uitspringslag het sy die deur agter haar toegeslaan en haar handsak met haar selfoon was steeds binne die bakkie. Volgens Marie het sy maar gekyk waar die slang is en toe sy hom nie meer sien nie, vinnig die deur oopgeruk en haar handsak gegryp.

Ongelukkig kon die selfoon geen sein optel nie en kon sy nie haar man, Nolte, wat reeds tuis was, kontak om te kom help nie. Uiteindelik het dr Maré daar verbygekom en saam met haar beraadslaag oor hoe om van die reptiel ontslae te raak. Hulle het die deur oopgemaak en hom bietjie aangehits om uit te seil. Die mamba het skaars sy kop by die deur uitgesteek toe besluit hy om maar weer agter die pedale in te seil en hom daar tuis te maak. Marie het toe maar die bakkie gesluit en dit aan Nolte oorgelaat om die voertuig huis toe te bring en die slang te verwyder.

Marie sê dat sy Sondag Ta gewaar het waar hy heerlik in die sonnetjie op die instrumentpaneel van die Cruiser lê en bak het. Toe hy haar gewaar het hy vinnig in die voorruitontwasemer ingeseil. Tot hede staan die Cruiser maar net waar hy geparkeer is tot tyd en wyl Nolte klaar is met die jagters en aandag aan die slang kan gee. Intussen ry sy maar met een van die ander voertuie werk toe en terug.