Resource Generation maak vordering met Boikarabelomyn

Deur Elana Greyling

LEPHALALE – Voltooiing van die ooreenkoms vir die vervoer van steenkool met Transnet is die finale stap voor die nodige befondsing vir die ontwikkeling van die projek gefinaliseer kan word. Die toestaan van die geintegreerde watergebruikerslisensie deur die Departement van Waterwese stel die myn in staat om water te gebruik vir die eerste fase van die projek sowel as die ontwikkeling van die area. Verder het die groep bevestiging ontvang van die Departement van Mineraal en Energiesake dat die mynlisensie gefinaliseer is nadat die appèl daarteen finaal van die hand gewys is.

Paul Jury, besturende direkteur van Resource Generation het gesê: “Ons is baie tevrede met die mylpale wat bereik is. Dit dui op ondersteuning van

al die regulerende owerhede en bevestig die ekonomiese voordeel wat die projek vir die Limpopo-gebied inhou.” Resgen is reeds etlike maande in samesprekings met Transnet. “Voordat ons nie die getekende kontrak het nie, kan ons nie befondsing finaliseer nie,” verduidelik Jury.

Die voorgestelde myn beloof om ‘n positiewe impak op die ekonomie en vaardigheidsontwikkeling in die area te hê,  omdat hulle beplan om 733 plaaslike mense op te lei en in diens te neem. Die verwagte leeftyd van die myn is ‘n 100 jaar. Limpopo provinsie, is saam met die Oos Kaap en Vrystaat, van die armste in die land. Resgen sal nou met die Departement van Waterwese saam werk om lisensies te bekom vir die bou van die Marapong-Boikarabelo Suiweringswerke en die gebruik van water vir die voorgestelde kragstasie vir die myn. ‘n Ooreenkoms is verlede Desember gesluit met die Lephalale munisipaliteit vir die bou van die suiweringswerke in Marapong. Die totale waarde van die projek beloop R 160 miljoen en sal water voorsien vir die mynbou-aktiwiteite van Boikarabelo. “Die omgewingswaarde van hierdie projek is beduidend. Dit sal ook besoedeling verhoed deur onbehandelde rioolwater,” voeg Jury by.

Die steenkoolmyner, Resource Generation SA, is een stap nader aan die konstruksie van hulle Boikarabelomyn  na die toekenning van ‘n watergebruikerslisensie en nadat ‘n appèl teen die mynregte deur die Departement van Mineraal en Energiesake ‘n appèl van die hand gewys het.

Inwoners van Lephalale is dankbaar oor hierdie deel van die projek as in ag geneem word dat daar reeds besoedeling vanuit Marapong tot in die Mogolrivier voorgekom het.

“Resgen het alles volgens die letter van die wet gedoen en maak mooi beloftes vir werksgeleenthede in ons omgewing. Dit bly egter waar dat die toerisme en jagbedryf in die omgewing deur sulke projekte benadeel word,” se een boer.