Ystervrou by Ysterman

Luzaan Combrink.

Luzaan Combrink, ‘n plaaslike inwoner van Thabazimbi en 3-kamp atleet, het op Sondag 22 April 2012 aan die Internasionale Ystermankompetisie 2012 te Port Elizabeth gaan deelneem. Daar was ongeveer 295 vrouens in die algeheel en 70 vrouens in Luzaan se ouderdomsgroep.  Haar algehele tyd was 15:50:12 en sy was 35ste in ouderdomsgroep. Op die foto hou Luzaan die medalje trots by die hemp wat aantoon dat sy die ystermanwedloop voltooi het.

Spec-Savers Ysterman Suid-Afrika 2012

 

THABAZIMBI – Luzaan Combrink, ‘n plaaslike inwoner van Thabazimbi en 3-kamp atleet, het op Sondag 22 April 2012 aan die Internasionale Ystermankompetisie 2012 te Port Elizabeth gaan deelneem.

Om stiptelik 07:00 die oggend het die kanonskoot die amptelike begin van die gevreesde ystermanwedloop aangekondig. ‘n Aantal van 1 800 deelnemers het met die wedloop begin deur ‘n afstand van 3.8 km  in die see te swem. Met ‘n stormsterkwind van ongeveer 80km\h het die atlete ‘n tyd van 2 uur en 20 minute kans gehad om die swembeen te voltooi. Heelwat minder atlete het toe daarna die uitmergelende 180km met die fiets in gietende reën en koue aangedurf. Die atlete het 8 ure tyd gehad om die 180km af te lê. Daarna moes die atlete ‘n afstand van 42.2km hardloop en het tot middernag tyd gehad om dit te voltooi. Daar was ongeveer 295 vrouens in die algeheel en 70 vrouens in Luzaan se ouderdomsgroep.  Haar algehele tyd was 15:50:12, algehele posisie was 1 229, 35ste in ouderdomsgroep en 178ste van al die vrouens.

Die wenner van die mans is Clemente Alonso-Mckernan van Spanje met ‘n tyd van 8:34:46.   Die wenner van die vrouens is Natascha Badmann van Switzerland met ‘n tyd van 9:47:11. Slegs 1 376 atlete van die 1800 wat weggespring het, het die dag voltooi.

Luzaan sê dat die hele IMSA2012 (Ironman South Africa 2012) ‘n geestelike sowel as ‘n emosionele hoogtepunt van haar sportloopbaan was. Daar word altyd met respek gepraat van die IMSA en nou verstaan sy hoekom en sal na dese met nog groter respek na die hele wedloop kyk. Buiten die feit dat dit baie goed georganiseer is met ongeveer 3 000 hulpwerkers vir die dag, is dit ‘n wedloop wat jou fisiese en verstandelike fiksheid en vermoëns toets. Sy is baie opgewonde oor die feit dat sy met grasie oor al die afsnytye kon kom en aan die einde met ‘n waardigheid haar medalje kon ontvang. Sy is stil dankbaar vir die gesondheid en die vermoë om daaraan te kon deelneem.

Graag wil sy almal wat haar geestelik en emosioneel tydens die wedloop ondersteun het, baie dankie sê. Dit is wonderlik om te weet dat ‘n gemeenskap so belangstel en so ondersteunend is. Baie dankie vir almal wat ‘n aandeel gehad het in die Happy Feet Renosterbeskermingsprojek. Sy het regtig groot waardering dat daar soveel mense is wat ook hierdie projek ondersteun. Mag sy volgende jaar weer so geseënd wees om dit aan te durf vir ‘n goeie doel.