Thabazimbi wildsfees is terug met mening!

THABAZIMBI – Die feesterrein by Frikkie Meyer Hoërskool het die afgelope naweek behoorlik uit sy nate gebars met meer as 10 000 feesgangers en hulle kinders, tydens die Thabazimbi Wildsfees en daar kan met oortuiging gesê word: Die Thabazimbi Wildsfees is terug met mening! Volgende jaar vier ons die 30ste bestaansjaar behoorlik.

Feesgangers is bederf met meer as 100 stalletjies om van te kies en te keur, om nie eens te praat van die lekker Boeresport wat baie entoesiastiese deelname gehad het nie. ‘n Paar hoogtepunte; van die meer as 20 wildsbokke wat afgeslag is, is ‘n rekord van by die 13 sekondes vir die afslag opgestel. Die wildspakketveiling was ook baie goed ondersteun en gaan beslis met volgende jaar se fees volgehou word.

Familie-vriendelike vermaak was aan die orde van die dag met baljaarplek vir die kinders daar was daar ook verskeie kunstenaars wat gesorg het vir die feestelike atmosfeer. Daar is tot laat in die nag lekker gekuier in die biertuin kroeg.

Die organiseerders is baie dankbaar vir die geweldige ondersteuning van Virseker, Fast Freight en Thaba Super Spar. Hulle bedank ook Pick n Pay, Wimpy en Die Kwêvoël vir die bydraes en pryse tydens die 2012 Thabazimbi Wildsfees. Volgende jaar maak ons weer so!

Goeie ondersteuning is met die inkleurkompetisie ontvang en die beriggie oor die wenners sal volgende week geplaas word.