Spirocerca lupi – nuwe wurm wat kop uitsteek

‘n Wurm genaamd Spirocerca lupi begin al hoe meer algemeen word in die somer reënval gebiede in Suid Afrika.

Die wurm bly in die hond se slukderm (oesophagus), waar dit ‘n nodule vorm.

Die wyfie wurms lê eiers wat in die hond se mis uitkom. Hierdie eiers kan dan deur ‘n miskruier geëet word en so die lewenssiklus voortsit.

Die klein miskruiertjies (scarab kewers) wat in die mis leef is deel van die lewenssiklus. Nie die mis “rollers” waarmee ons meer bekend is nie.

Die kewer kan deur ‘n hond geëet word. Die eiertjie broei uit en word ‘n derde stadiumlarf in die kewer. As ‘n hond die kewer eet boor die derde stadium larf in die maag in.

Hulle migreer langs die arteries na die aorta (die grootste bloedvat in die lyf) in die borskas binne twee weke.

In die aorta se wand word die larwes volwasse en bly daar vir drie maande. Aneurismes kan in die aorta vorm. Hierdie kan bars en akute dood veroorsaak.

Sodra die wurms volwasse is migreer hulle na die oesofagus. Op hierdie stadium is die wurms 4-5 cm lank en kan erge skade aanrig soos om groot bloedvate te laat bars, inflammasie van die strukture wat die longe hul funksies laat uitvoer en infeksie veroorsaak.

Die wurms vestig hulle in die oesofagus waar hulle leef, paar en eiers lê.

Honde reageer verskillend op die nodules. Sommige honde, veral Foksterriërs kan erge irritasie wys met slegs klein nodules. Hulle probeer opgooi (retching), kwyl en sluk kort kort.

Ander simptome sluit in koors, gewrigspyn, hoes en moeilike asemhaling. As gevolg van kroniese irritasie kan van die nodules kanker word.

Diagnose word gemaak deur endoskopie(‘n kamera in die oesofagus), bors x- strale kan help maar kan nodules miskyk.

Voorkoming kan die kanse met 80 % verminder dat jou hond dit kry deur maandeliks te ontwurm met ‘n ontwurmer wat milbemycin oxime bevat (Milbemax of doramectin). Die anti-parasietmiddels is die enigste middels wat bewys is om te genees of die kans vir infeksie te verminder met Spirocerca.

Maandelikse ontwurming beheer ook die ander wurms (ronde en lintwurms) omdat hulle lewens siklus ongeveer 21 dae lank is.

Dit verhoed dat die wurms volwasse word en eiers lê en so die omgewing besmet.

Die siekte is nie gedokumenteer in mense nie en is raar in katte.

Voorkoming is beter as genesing. Ontwurm jou honde maandeliks.