Opregte dank aan ‘n bekwame Raadslid

‘n Hartlike dank aan Raadslid Piet Strydom vir al die omgee, terugvoering en belangstelling wat  hy aan die Inwoners en Sakelui van Northam gee.

Hy is altyd bereid om met groot verdraagsaamheid na ons klagtes te luister en daarna self ondersoek te gaan instel. Ons het meer sulke mense nodig.

Northam versleg by die dag en wanneer ‘n mens die Munisipale kantore skakel en met die verantwoordelike persoon  (vullisverwydering) praat, word daar vir jou gesê dat jy nie vir hulle moet sê hoe hulle, hul werk moet doen nie en op drie geleenthede was die telefoon in my oor neergeplak.

Waterlesings word ook nie gedoen nie en daar word gevra dat ons dit liefs self moet doen. My vraag is, moet ek nou iemand anders se werk doen en wie ontvang die salaris?

Ek betaal elke maand vir vullisverwydering maar moet dit self op die ashoop gaan aflaai waar ek weer R30 moet opdok. Die trekker is blykbaar stukkend en daar is nie geld vir herstel nie. Dit voel vir ons asof Botha straat gesteel is, want daar is nie meer ‘n straat nie. ‘n Kontrakteur het alles opgegrawe en niks is sedert laas jaar gedoen nie. Dit lyk of ons nou op ‘n gereelde basis foto’s in die pers sal moet plaas. Ons vra ook dat die Gesondheidsinspekteur asseblief Northam moet kom besoek.

BBB-Northam