Indrukwekkende eerste veiling

Koper en verkoper Van links na regs. Jaco Trotskie (koper van R 20 miljoen buffel), Willie Roux (afslaer), Piet du Toit (verkoper) en Johann Vosser (Besturende Direkteur van Vleissentraal Bosveld)

Die baie bekende mnr Piet du Toit het sy heel eerste wildveiling op indrukwekkende wyse afgeskop op sy plaas Hoogeboomen, Lindeyspoort naby Rustenburg op Vrydagaand 13 April om 18:00.

Die fasiliteite was ongelooflik – niks was ontsien om dit die mees uitstaande veiling te maak wat nog plaasgevind het.

Net voor die veiling was daar ‘n indrukwekkende sonsondergang en met die vure wat oral rondom die lokale aangesteek was, het dit ‘n onvergeetlike gesig gemaak, wat by die atmosfeer inklank gevind het.

Daar is niks ontsien om die kopers welkom te laat voel nie, op die koop toe was die etes en drinkgoed alles gratis aangebied.

Mnr Piet du Toit het selfs voor die veiling aangekondig dat hy die wild gratis oor die land sal aflewer.

Dit was werklik ‘n ongelooflike en indrukwekkende atmosfeer wat geskep is.

Die mees prominente wildboere vanoor die lengte en breedte van Suid Afrika en Namibia het die veiling bygewoon. Die veiling het sowat 2000 belangstellendes gelok.

Die hoofrede vir hierdie suksesvolle veiling bly dat Piet du Toit ‘n naam opgebou het deurdat hy regdeur op elke veiling waar hy sy wild aangekoop het slegs die allerbeste diere aangekoop het teen rekordpryse.

Almal het dus geweet dat die diere onverbeterlik was en daarom wou hulle van die buitengewone genetika bekom.

‘n Elektriese oomblik het geheers met die opveil van die Buffelkoei Tanzania met ‘n verskalf, en wat op die end verkoop was vir ‘n rekordprys van R 20 miljoen rand. Die mense het spontaan opgestaan en hande geklap voordat die bod uiteindelik toegeslaan was op Boet en Jaco Trotskie. Boet en Jaco Trotskie het ook ‘n Oos-Afrika dragtige buffelkoei teen die rekordbedrag van R7,25 miljoen (vorige rekord R4,7 mil,) en ‘n goue wildebeeskoei teen die rekordbedrag van R970 000 (vorige rekord R630 000) aangekoop.

Wicus Ras het gesorg vir twee rekordpryse met ‘n Koningwildebeesbul en 10 dragtige koeie (van die Koningwildebeesbul) teen R5,1 milj en ‘n bosbokteelgroep teen R12 000.

Cyril Ramaphosa, wat ook op die rekord buffelkoei gebie het, het self ook gesorg vir ‘n paar rekordpryse naamlik ‘n Njala teelgroep teen R30 000 (vorige rekord R12 000), ‘n swarthartwater springbok teelgroep teen R120 000 (vorige rekord R17 000) en ‘n goue gemsbokbul teen R625 000.

John Trollope het ‘n swart rooibokram aangekoop teen R360 000 (vorige rekord R210 000) en Hardus Steenkamp het gesorg vir R90 000 vir splitsgene swart rooibokooie (vorige rekord R 6 900).

Die volgende spesies het die volgende hoogste pryse behaal:

Livingstone Elandkoeie – R 57 500; Zambiese swartwitpens – R1,7 milj; Hartwater springbokke – R24 000; blesbokke – R1 200; elande R6 250; koedoes – R3 100; njalas – R 7 200; rooibokke – R1 360; sebras – R4 700; waterbokke – R6 750; elandbulle R8 250;  koedoebulle – R 8 000, rooibokramme – R2 800 en waterbokbulle – R7 250.

Die omset van die vlakteveiling was R689 370 en die veiling het afgesluit met ‘n rekord omset van R 146 189 870.

Die veiling is aangebeid deur Vleissentraal Bosveld van Potgietersrus.

Tanzania = Oos-Afrika buffelkoei & vers verkoop vir R 20 miljoen rand