Draakpot maak geraas

Pat Benson en Pieter Coetzee - wenners van Potjiekoskompetisie.

THABAZIMBI – Die jaarlikse Thabazimbi Wildsfees Wildspotjiekoskompetisie het vir strawwe mededinging gesorg en is uiteindelik deur die Dewside-span met hulle Draakpotjie gewen.

Volgens die beoordelaars was al die potte van hoogstaande gehalte en kon hulle nie daarin slaag om ‘n absolute wenpot aan te wys nie. Die algehele aanbieding van Dewside se potjie het egter die deurslag gegee en as die X-Faktor (algehele) wenner aangewys. Die prys vir die beste spangees het gegaan aan Spik-Mari span. Die beste tafelaanbieding is deur die Nelle-span gewen en die Spiertiere is as die Gatskopspan aangewys.

Beide die Spik-Mari en Spiertiere was inskrywings vanaf HFM en het weer gesorg vir jong bloed wat ingeblaas word. Daarby het hulle gewys dat hulle glad nie vir die meer ervare spanne terug hoef te staan nie.

Hendrik Cronjé, meer bekend as Lucas van 7de Laan, het as gasbeoordelaar saam met die twee amptelike beoordelaars, Annelie Pelser van Deo Volente Gastehuis en Isabel Fouché, ‘n spysenier van Amandelbult, die rondtes gedoen om die beste potjies aan te wys.

Die terrein by die Hoërskool verleen hom uitstekend vir die aanbieding van die potjiekoskompetisie en is baie sindelik en goed uitgelê. Alle deelnemers bedank die bestuur van HFM dat hulle hierdie gedeelte beskikbaar gestel het vir die aanbieding van die kompetisie.

Pieter Coetzee van Dewside het met hierdie kompetisie ook sy uittrede uit die kompetisie aangekondig nadat hy sowat 20 jaar gelede met sy eerste deelname aan die kompetisie gewen het met ‘n vlakvarkpot en van toe af tot voorverlede jaar organiseerder van die kompetisie was. Eers namens die Bergboegoeklub en daarna onder die vaandel van Die Kwêvoël. Die twee potte was uniek in die sin dat die vlakvarkpot ‘n heel vlakvarkboud bevat het en vanjaar se pot die enigste krokodilvleispot was wat as algehele wenner aangewys is. Hy beloof wel dat hy in die toekoms gereeld daar sal wees met ‘n kuierpot.

Die leisels is verlede jaar aan die volgende generasie oorhandig en Pieter sê hy vertrou dat hulle net soveel pret sal hê en gesellige kuiers sal geniet met geesdriftige potjiemakers en al die nuwe mense wat hulle gaan ontmoet. Dit is dié kuierplek waar jy baie van jou gunsteling sepiesterre en musikante persoonlik kan ontmoet.