Bedrywige tyd by vliegveld

THABAZIMBI – Sedert die afgelope wildsfeesnaweek was daar besonder baie aktiwiteite by die Thabazimbi Vliegveld.

Orion Sweefklub van Magalies het die naweek tydens die wildsfees gebruik gemaak van die laaste stygende warm lugstrome om hulle sweeftuie in die lug te hou. Thabazimbi is gerieflik naby aan hul tuisklub en net so voor die winter is dit ‘n gewilde sweefmekka.

Die klub het oorspronklik Thabazimbi gedurende die Paasnaweek besoek. Sedertdien is daar ‘n groot saamtrek by Harrismith waarheen baie van die sweefklub optrek. Thabazimbi bied tog so ‘n laaste kansie voor die winter toeslaan en die opwaartse lugstrome skaars raak om tog die sweeftuie in die lug te kry. Die klub beplan om Thabazimbi wel vroeg in September te besoek sodra die warm lugstrome weer kop in hierdie geweste uitsteek.

Buiten die paar gemotoriseerde sweeftuie was daar ook die De Haviland Tiger Moth wat saam met die lede van die klub kom kuier het.

Maandagaand het die besoekers heerlik saam met die plaaslike vliegklub, Kransberg Vliegklub, om die braaivleisvure gekuier en is vriendskappe deur die aand gesmee.

Kransberg Vliegklub het die kuier van Orion net die volgende naweek opgevolg toe hulle die seniors van die dorp met vliegritte getrakteer het. Sowat 18 brawes het vanaf die oggend 07:00 met groot opwinding by die vliegveld met ‘n warm koffie in die hand op hul ritte gewag.

Verbasend genoeg het die meeste van die gaste verkies om met die piepklein mikroligtevliegtuig te vlieg en hul hare ‘n nuwe perm te gee, eerder as om met die groter vier-sitplek vliegtuig op te gaan. Vir baie van hulle was dit hul eerste ondervinding van vlieg asook om in ‘n ligte vliegtuig te vlieg.

Een van die instrukteurs by die vliegklub, Carel Olivier, het die besoekers meer vertel van hoekom ‘n vliegtuig in die lug bly. Daarna is hy bestook met lugverkeersreëls en het hy meer verduidelik van hoe die hoofpaaie in die lug werk en die reëls wat jy moet onthou om uit die pad van aankomende of stadige vliegtuie te bly.

Die dag is afgesluit met ‘n heerlike wildsworsbroodjie, net soos jy dit in Thabazimbi kan kry.