Tweede kans vir vergifte visarend

'n Visarend, wat ná vergifting gerehabiliteer word deur Thabazimbi Animal Rescue.

THABAZIMBI – ‘n Visarend het op Saterdag 14 April ter nouer nood aan die dood ontkom nadat ‘n brawe barmhartige samaritaan in die Krokodilrivier gespring het om dit te red.

Henco Swanepoel het die visarend in die lang gras gewaar. Hy het onraad vermoed toe hy sien hoe dit sukkel om op te styg en die voël ‘n bietjie langer dopgehou. Dit het op ‘n boomstam probeer opvlieg en meteens voor oor in die Krokodilrivier getuimel. Henco het hom gehaas na waar die voël ingeval het en dadelik ingespring om die voël te red.

Nadat hy die voël uit die rivier getrek het, het hy vir Tania van Thabazimbi Animal Rescue (TAR) ontbied en die visarend warm gehou met ‘n T-hemp.

Later het Riaan Nagel die visarend met voël-vergiftiging gediagnoseer en die span van Medivet Dierekliniek, onder andere Drs Louis en Mariëtte Greeff sowel as René het hom ondersoek, met elektroliete behandel en gehelp met voeding.

Sarel en Annelie Pelser, ook van TAR, is in beheer van die vang van kurpers om die voël te voed.

Volgens verskeie kenners is die arend waarskynlik vergif toe dit vis gevreet

het wat besmet was.

Die visarend is vermoedelik deel van ‘n broeipaar en sal na sy rehabilitasie weer op dieselfde plek waar hy gevind is, vrygelaat word.

Die verantwoordelike bestuur van gifstowwe sal die enigste oplossing wees om dié soort voëls ‘n permanente kans op oorlewing te gee.

Uiteraard is dit ook die kern van Thabazimbi Wildsfees, om beskerming en bewaring van die omgewing se natuurlike hulpbronne te bevorder.

Die visarend is aangewys as die voël van die jaar en sy roep staan bekend as “the voice of Africa”. Wanneer hy roep, luister Afrika.

Deur Estie Taljaard

estie@kwevoel.co.za