Thabazimbi Wildsfees is plesierig…

THABAZIMBI – Die 29ste jaarlikse Thabazimbi Wildsfees aangebied deur Virseker en Fast Freight in samewerking met PMP en Hilltop Live se program tydens die naweek van 27 en 28 April is propvol vermaak en genot vir die hele familie en die feesterrein by Frikkie Meyer Hoërskool gaan stampvol stalletjies na elke smaak wees. Benewens al die smul goed is daar meer as genoeg aktiwiteite vir almal om aan deel te neem en sommer baie pryse los te slaan.

Die hekke maak alreeds om 08:00 oop op beide Vrydag en Saterdag en die groot pret begin om 10:00 wanneer Boeresport, eiesoortig aan Thabazimbi afskop. Begin sommer nou al om ‘n span bymekaar te maak want daar is lekker pryse op die spel. Lukas van 7de Laan maak ook ‘n draai om kompetisies te beoordeel.

Danksy Thaba Spar staan feesgangers hierdie jaar die kans om van hulle gunsteling kunstenaars wat gedurende die naweek optree, te ontmoet en foto’s saam met hulle te neem. Dis nie al nie – die wenner kry ook twee kaartjies na Saterdag se show. Dan is daar nog ‘n R200 kroeg koopbewys en ‘n R500 Spar koopbewys op die spel. Om in te skryf is maklik en hoe meer inskrywings hoe beter. Kry jou inskrywingsvorm by Thaba Spar, voltooi en plaas in die kompetisieboks om in aanmerking te kom. Inskrywings sluit Woensdag om 17:00. Hou die Kwêvoël dop vir die Top 5 name wat in ag geneem word vir die trekking. Wenners word Vrydag 27 April op die hoof verhoog by die Thabazimbi Wildsfees aangekondig.

Kaartjies kan voorafgekoop word by www.ticketbreak.co.za en kos R40 vir Vrydag en R60 vir Saterdag. Kaartjies sal ook by die hek beskikbaar wees. Kinders onder 12 jaar kry gratis toegang.

Bly op datum met al die nuus, aankondigings en kompetisies op Facebook by www.facebook.com/thabazimbiwildsfees.