EntertainmentGeneral

7de Laan se Lucas kuier saam by die wildspotjie

THABAZIMBI – Die Wildspotjiekoskompetisie, lankal reeds ‘n onlosmaakbare deel van die jaarlikse Wildsfees, vind plaas op Saterdag 28 April. Hendrik Cronjé, bekend vir sy rol as Lukas Mulder in die sepie 7de Laan, kuier hierdie jaar saam om die potte waar hy ook as gas-beoordelaar sal optree. Hendrik sal ook optree as seremoniemeester by die fees.

Die jaarlikse Thabazimbi Wildsfees vind hierdie jaar vir die eerste keer plaas op Hoërskool Frikkie Meyer se terrein – en die area wat opsy gesit is vir die potjiekoskompetisie is ideaal geskik vir lekker kosmaak en gesellige kuier!

Verskeie pryse gaan toegeken word  – van die lekkerste pot tot beste span en bedrywigste kok, om net ‘n paar te noem. Daar is heerlike kuierplek onder die bome waar

die spanne dit gaan uitkook tussen mekaar. ‘n Span kan bestaan uit vier mense of minder en familie en vriende mag saamkuier om die pot (solank hulle nie help kook nie!).

Skryf nou in en wees verseker van ‘n lekker kuierplek vir jou span en familie of vriende.

Inskrywings is oop tot volgende week Donderdag, 26 April.  As alternatief kan vorms afgehaal word by Die Kwêvoël kantore in Tweedelaan. Voltooide vorms en inskrywingsgelde kan ook hier ingegee word.

Ietsie meer oor Hendrik Cronje:

Buiten die bekendheid wat hy verwerf het as Lucas in 7de Laan beskik Hendrik oor ‘n BA graad in Korporatiewe Kommunikasie wat hy by die Universiteit van die Vrystaat behaal het. Na sy studies het hy besluit om ‘n toneelkursus wat deur Brumilda van Rensburg angebied is, by te woon.

Sy verhoogkrediete sluit onder andere in Nag van Legio deur PG du Plessis. Hendrik was ook platejoggie by KOVSIEFM en het ook sy lyf joernalist gehou by die studentekoerant, IRAWA. Hendrik is ‘n ywerige sportman en is ‘n Vrystaat landloop-kampioen.

Hendrik was ook onlangs die eerste Suid-Afrikaner wat ‘n $10 000 borgskap ontvang het van die New York Film Academy. Hy gaan die borgskap gebruik om verdere akteurs-opleiding te ontvang.