Steeds geen vullisverwydering vir Northam

Die kommerwekkende stapels vullis in ‘n besige sakesentrum in Northam wat die munisipaliteit faal om te verwyder.

NORTHAM – Sedert Kwêvoël verlede maand berig gelewer het oor haglike toestand waarin Northam homself bevind, is daar nog geen poging van die plaaslike munisipaliteit aangewend om die situasie te beredder nie.

DA Raadslede mnre Piet Strydom en Derick Daniels het verlede week Northam besoek op versoek van Northam se sakelui.

Volgens Raadslid Daniels was hy uiters geskok om munisipale werkers te sien sit en gesels met straat-stalletjie eienaars. Die trekker, wat volgens die munisipaliteit buite werking is, het wel opgedaag om vullisverwydering te doen, maar slegs drie swart sakke opgelaai en daarna pad gegee. Hope vullis lê oral in die besige sakesentrums en word vertrap en rondgewaai om verdere chaos te saai.

Steeds word daar ook nie aandag gegee aan die kerk wat snags tot na middernag die inwoners wakker hou nie en die grondpad, wat na die goeie reëns soos ‘n dam lyk, is steeds nie geteer nie.

Die gemeenskap van Northam doen ‘n beroep op die plaaslike munisipaliteit om hulle dorp reg te ruk, sodat die inwoners hulle nie hoef te skaam vir die toeriste wat daagliks deur Northam moet ry oppad na hul bestemmings nie.

Deur Estie Taljaard

estie@kwevoel.co.za