Kalfie drink aan ma se karkas

Die mees onlangse renosterwesie nadat sy ma op die wreedaardigste manier moontlik doodgemaak is en van haar horing gestroop is.

Die maand-oue renoster kalfie wat Sondag in die vroeë oggendure langs sy ma se karkas gevind is, sterk goed aan in ‘n rehabilitasie sentrum net buite Thabazimbi.

Die kalfie se ma is om 01h30 Sondagoggend in die Dabchick-natuurreservaat naby Alma op ‘n kort afstand twee keer in die kop geskiet met ‘n .30-06 geweer. Haar horing is met ‘n byl afgekap.

Die kalfie is tans in die sorg van Dr. Louis Greeff, ‘n vee-arts van Thabazimbi. Greeff het hierdie week met Noordelike Nuus gesels oor die voorval en was nog duidelik ontsteld oor die grusame gebeure. Volgens hom wil dit voorkom of die kalfie ten tye van die aanval gevlug het, hy het egter later weer teruggekom en het selfs aan sy ma probeer drink, maar sy was reeds dood. Greeff is gevra om die kalfie te verdoof omdat hy gespook het om by sy ma te bly, hy het haar bly stamp en was duidelik erg getraumatiseerd.

Greeff het aan Noordelike Nuus gesê die renosters op die reservaat word baie goed gemonitor. Hy vertel dat gewapende wagte na hulle laaste patrollie net voor twaalf Saterdagaand gaan slaap het.

Die renosterkoei is kort daarna slegs 300m van die plaasbestuurder, Martin Roux se woonhuis geskiet. Roux het aan Greeff gesê dat hy die skote en die bylkappe gehoor het. Na ‘n lang soektog het hulle die kalf die volgende oggend by sy ma se karkas gekry.

“Ek wil hê dat julle hierdie foto plaas sodat mense kan sien hoe barbaars hierdie skelms is,” het Greeff Dinsdag gesê. “Ons het verlede week stropers vasgetrek en hulle is aangekla van die onwettige besit van vuurwapens en het elk ‘n R1000 boete betaal. Nou is hulle weer op vrye voet om voort te gaan om renosters in die Waterberge te stroop. Jy moet so ‘n stroper in die daad betrap anders kom hulle daarmee weg. Ons is raadop.”

Sedert begin vanjaar is 164 renosters landwyd vir hul horings gestroop.

Intussen het die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) die regering gevra om die  Konvensie op die Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (CITES) te versoek om Suid-Afrika se witrenosters af te gradeer om die internasionale handel in renosterhoring toe te laat as die enigste doeltreffende maatreël teen renosterstropery.

SAJWV het ook aanbeveel dat deskundiges in die private en openbare sektore ‘n enkele entiteit skep met ‘n duidelike mandaat om stropery hok te slaan en die internasionale handel in renosterhoring te bestuur met behulp van DNS-data.

Die Veterinêre Genetiese Laboratorium by die Veeartsenykundige Fakulteit van die Universiteit van Pretoria versamel al vir geruime tyd DNS van renosters en renosterhoring vir sy Renoster DNS-indeksstelsel (RhODIS).

Die Vereeniging se besturende hoof, Dr. Herman Els waarsku dat olifante en leeus, net soos renosters, eersdaags ook onder stropers kan deurloop. “Ons hoop van harte dat ons nie die bedreiging van hierdie diere ook op ‘n soortgelyke reaktiewe wyse moet beveg nie.”

Sedert die dramatiese styging in renosterstropery in 2010, het SA Jagters en bekende bewaringsdeskundiges soos dr Ian Player en David Cook, ‘n voormalige senior beampte van die Parkeraad, versoek dat die internasionale handel in renosterhoring gewettig moet word as die enigste oplossing om die land se renosters te beskerm.

Hierdie week is nog twee renosters in Limpopo geskiet, een op ‘n plaas buite Hoedspruit, die ander op ‘n wildplaas naby Tzaneen. Die eersgenoemde koei was dragtig en was twee jaar gelede onthoring. Stropers het volgens Beeld die helfte van haar snoet weggekap om die stompie te stroop wat begin teruggroei het.