Bejaardes is sagte teiken vir inbrekers

Mev Marthie Prinsloo (77) demonstreer hoe sy op haar bed gelê het toe die vermeende skurk, sentimeters van haar kop, by hul kamervenster wou inbreek.

THABAZIMBI – ‘n Bekende bejaarde paartjie se Paasnaweek is erg ontsuur nadat ‘n vermeende inbreker op Donderdag 5 April toegang tot hul erf bekom het.

Mnr Chris (79) en mev Marthie Prinsloo (77) van Vierdelaan het net na middernag wakker geword nadat hul buurman, mnr Hannes Venter, se honde verskriklik begin blaf het.

Mnr Prinsloo het opgestaan om vas te stel waarom die honde so aanhoudend blaf, waarna hy die vermeende inbreker sentimeters van sy vrou se bed by hul kamervenster gewaar het. Hy het opgespring en uit die huis gehardloop om die skelm aan te keer en sy eggenote opdrag gegee om die polisie telefonies te ontbied.

Mnr Venter het intussen ook by sy huis uitgehardloop nadat hy die man by sy geliefde bure se kamervenster opgemerk het. Saam met mnr Prinsloo het hulle die man aangekeer en gewag vir die polisie om op te daag.

Hulle het met hom in Engels gekommunikeer, maar hy wou egter nie sê wat hy daar gesoek het nie. Volgens mnr Venter was die skelm onder die invloed van dwelms.

‘n Getraumatiseerde mev Prinsloo het aan Kwêvoël gesê dat sy die polisie geskakel het en uitdruklik gesê het waar hulle bly. Die polisiekantoor is ook in Vierdelaan, maar eers na vyf en veertig minute het die polisie by hul huis opgedaag nadat hulle verby gejaag het na ‘n ander woning.

Met die lang wag vir die polisie, het die vermeende inbreker ontsnap en met Bergstraat afgehardloop en verdwyn.

Mev Prinsloo is reeds vir drie jaar afhanklik van ‘n rolstoel en is tans so bang dat die skurk sou terugkeer, dat sy nie eers buite wil sit nie.

Sy het dit eens dat die skelms die senior inwoners as ‘n sagte teiken sien en maan die bejaardes om honde aan te skaf en deel te word van ‘n buurtwag.

Hulle bedank graag hul buurman, mnr Venter, pastoor Enslin, Debbie Viljoen en die gemeenskap wat hul ondersteun in hierdie tyd. Die egpaar ontvang tans berading.

Deur Estie Taljaard

estie@kwevoel.co.za