Wie eet wat

Melk. Die een ding wat alle soogdiere (ook die mens) in gemeen het.  Daar is baie verskillende soorte melk wat die mens kan gebruik.  Afgesien van die oudste gunsteling, moedersmelk, is daar melkformule vir babas, kleuters en kinders om te drink.  Ook geblikte-, gehomogeniseerde-, gekondenseerde en gesteriliseerde melk is reg vir menslike gebruik.  Al hierdie soorte melk (wat meestal bees- of bokmelk is) is goed vir die mens.  Dit voed ‘n mens.

Indien werklik nodig, kan hierdie soorte melk dan ook in werklike noodsituasies vir die meeste soogdiere gegee word, as moedersmelk nie beskikbaar is nie.  Maar… Daar is ook ‘melk’ wat vir ‘n menslike kind voedingsgewys niks beteken nie: koffie- of teeverromer.  Hierdie verromer produkte het slegs een positiewe punt:  dit smaak lekker in koffie of tee.  Op die sakkie of blikkie waarin hierdie verromers verkoop word, staan duidelik dat dit nie as maaltyd-vervangers kan gebruik word nie.  Dit beteken dit HET GEEN VOEDINGSWAARDE NIE!  Nie vir ‘n mensbaba nie, en ook nie vir ‘n baba-katjie of baba-hondjie nie.

Onlangs het TAR se een vrywilliger die onaangename taak gehad om ‘n klein katjie na die veearts te neem, sodat die diertjie verlos kan word uit sy honger stryd.  Twee klein katjies is deur lede van die publiek ‘versorg’ nadat die ma-kat klaarblyklik dood is.  Die mense het die kleintjies met koffie-verromer aan die lewe probeer hou.  Albei is dood van die honger.

TAR en die veeartse wil ‘n beroep op die lesers doen om eerder klein diertjies wat nie vir hulleself kan sorg nie, na ‘n persoon of instansie te neem wat so ‘n diertjie reg kan versorg.  Dit geld ook vir nag-apies, wilde voëls ensovoorts.  As u nie ‘n deurgronde kennis het van die spesifieke dier of voël se eetgewoontes nie, laat iemand wat wel hierdie kennis het, oorneem.  Belangrikste om te onthou: al is honde en katte heeldag om ons, is dit nie te sê dat hulle alles kan eet wat ons eet nie.  Die meeste van hierdie luukse produkte (verromers, lekkergoed, tjips ensovoorts) is nie eers vir die mens gesond nie …