Vir altyd jonk

Week 14 – 6 April 2012

Hierdie week gaan ek nie oor die afbrekende dinge wat in ons gemeenskap en ons land gebeur het my tyd op mors nie. Dit gaan oor iets baie naby aan my hart, die lewe self, nie hoe om te oorleef in ‘n korrupte samelewing nie.

Vir Zak van Niekerk ken ek reeds uit die laat 90’s. ‘n Jong energieke musikant met ‘n ongelooflike talent vir die bekfluitjie. Zak het in daardie jare sinoniem met Thabazimbi geword met sy maandelikse optrede elke eerste Woensdag van die maand by Squirrels.

In die begin jare het Zak nie ‘n klankman gehad nie en ek en my joernalisvriend, Kobus de Kock, wat my aan Zak bekendgestel het, het hom gehelp om sy swaar luidsprekers en superswaar klanktoerusting uit die waentjie te help laai en opstel. Kobus se verbintenis het ook later jare na Thabazimbi uitgebrei as gereëlde potjiekosdeelnemer by die Wildsfees en nuusskrywer vir Thaba Stereo.

Die groeipyne van Zak se musiekloopbaan het ons saam met hom ervaar. Met tye het ek net ‘n sms gekry: “Hou die lasagne reg, ek is oppad”. Op een stadium moes ek my braaier by sy huis in Harties gaan optel nadat hy dit  voor my oë in sy bakkie gelaai het dat ek dit nie eens raakgesien het nie.

Zak was ‘n mens-mens en het baie mense in sy lewe geraak sonder dat hy dit enigsins besef het. Sy geduld met mense en sy mede kunstenaars het boekdele gespreek oor sy persoonlikheid. Jong kunstenaars het hy onder sy vlerk geneem, soos ekself ervaar het toe hy as deel van “Vyf van die Beste” Thabazimbi besoek het.

Hy was ook nie bang om die lang pad vanaf Springbok aan te vat, net om my met my vyftigste verjaarsdag hier op Thaba te kom geluk wens nie. Aan Sonja, dit is iets wat ek altyd sal onthou. Vir jou en die kinders was Zak ontsettend lief en hy het hard gewerk om te sorg dat sy familie eerste kom.

Namens ‘n vriend en almal wat hom persoonlik hier op Thabazimbi geken het, kan ek net sê dat Zak vir ewig jonk vir ons sal wees. – Pieter