Word ‘n boekmuis by Boeke-Ini-Bos

Luitjé Mulder van Boeke-Ini-Bos.

THABAZIMBI – Die ou spreekwoord wat lui, moenie ‘n boek op sy baadjie trakteer nie, is glad nie ter sprake wanneer jy die boeke van Boeke-Ini-Bos vir die eerste keer gewaar nie.

Hierdie boeke, wat nou spog met hul eie spesiale winkelspasie in Uit en Tuis in die Absa-winkelsentrum, se kleurvolle omslagte en veel kleurryke inhoud, roep kliphard uit om gelees te word.

Luitjé Mulder, eienares van Boeke-Ini-Bos, het as alleen kind op ‘n plaas groot geword met boeke as haar beste maatjies. Vandat sy kon onthou het sy ‘n liefde vir boeke en het permanent in die biblioteek geboer of sommer haar eie boeke gemaak uit prentjies wat sy uit ou tydskrifte geknip en geplak het. “Boeke maak my so opgewonde dat ek nie anders kan as om altyd met boeke besig te wees nie.” sê Luitjé met ‘n passie waarmee enige lesershart kan vereenselwig.

Volgens Luitjé het sy die voortsetting van haar groot liefde vir boeke aan haar moeder, Johanna Vorster, en ook twee onderwyseresse, Juffrou Naomi du Plessis en Juffrou Daniel Le Roux te danke: “Boeke maak jou slim en voer jou na ander wêrelde, al sit jy net op een plek stil.” het hulle haar geleer.

Luitjé voel sterk oor kliëntediens: “Wat ek nie het nie, gaan soek ek en kom altyd terug met ‘n antwoord.” Die top verkope wissel van baba-, peuter- en kleuterboeke soos Feëtjie opwipboeke, resepteboeke en Christelike boeke. Sy spits haar toe om nuwe boeke vir die ouderdom 0 tot wyse en gryse ouderdom-lesers aan te skaf. Op die rakke van Boeke-Ini-Bos sal jy ook handwerk-, inligtings- en selfhelpboeke raaklees. Boeke vir verdere studie deur Unisa is ook een van Boeke-Ini-Bos se afdelings en wat sal ‘n boekversameling nou wees sonder ‘n sappige liefdesroman of ‘n spanningsvolle speurverhaal.

Daar is ‘n lys van Lapa Uitgewers se boeke beskikbaar en op aanvraag kan Luitjé dit per e-pos aanstuur, hou ook die Boeke-Ini-Bos facebook-blad dop vir die interaktiewe lesersklub en spesiale aanbiedings. Die Top 100 Nielsen Boeklys is ook op Boeke-Ini-Bos se facebookblad te besigtig, so maak seker jy lees ieder en elk van die huidige topverkopers.

Boeke Ini-Bos beskik hoofsaaklik uit Lapa uitgewers en CUM Boeke, maar ander uitgewers se boeke is ook beskikbaar op bestelling. Volgens Luitjé is dit geriefliker om by Boeke-Ini-Bos te koop as om aanlyn te soek vir ‘n goeie boek. By Boeke-Ini-Bos kan jy die boek eers deurblaai

om te sien of dit werklik die boek is wat jy wil hê. Nog ‘n voordeel is dat jy nie ekstra posgeld hoef te betaal, of jou kredietkaart besonderhede uit te gee soos by aanlyn aankope nie.

Besoek gerus Boeke-Ini-Bos by hul nuwe tuiste in Uit en Tuis, Rietbokstraat, Thabazimbi vanaf Maande tot Vrydae 09:00 – 17:00 en Saterdae 09:00 – 13:00.

Sms Luitjé by 083 725 6574 met ‘n navraag of bestelling of e-pos luitjemulder@absamail.co.za of faks 0865 411 729. Boekgeskenkbewyse is ook beskikbaar wat gebruik kan word vir ‘n boek, ‘n cd of ‘n dvd.

Boeke-Ini-Bos in samewerking met Kwêvoël gee drie boekgeskenkbewyse weg aan drie gelukkige lesers wat die kompetisievraag reg beantwoord. Vraag: Wat beloop die koste van die Vrouekeur 3 resepteboek by Boeke-Ini-Bos. Stuur jou antwoord na estie@kwevoel.co.za of faks na 086 647 2055 of skryf die antwoord met jou kontakbesonderhede op ‘n toegeplakte koevert na Kwêvoël, Posbus 163, Thabazimbi, 0380. Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Vrydag 13 April 2012. Sien ook Boeke-Ini-Bos se facebookblad vir die facebook boeke-kompetisie.

 

Deur Estie Taljaard

estie@kwevoel.co.za