Wie word geblameer vir Thaba se watervermorsing

THABAZIMBI – Die kwessie van gedurige waterbeperkings en watertekorte wat die gemeenskap die afgelope somer lam gelê het, benodig dringend behendige ingryping.

Na bewering kan sowat 60% van die gemeenskap se waterverliese toegeskryf word aan waterlekkasies.

Die inwoners van Diederik straat het oor die algemeen ‘n groot tekort aan water, maar op Maandag 26 Maart, was hulle briesend nadat ‘n waterpyp wat duisende liters water uitgespuit het, vroegoggend reeds by Thabazimbi Munisipaliteit gerapporteer is, maar teen 18:00 die aand steeds nie herstel was nie.

“So kan dit darem nie aangaan nie.” Het ‘n gefrustreerde inwoner aan Kwêvoël gesê. “Hoe kan hulle vir ons waterbeperkings gee, as hulle self die water so mors!” Volgens die inwoners moet die Munisipaliteit dringend tot verantwoording geroep word vir die onvermoë of onwilligheid om waterlekkasies te verminder of heeltemal uit te skakel.

Volgens die Munisipaliteit was die oponthoud nie onwillige Munisipale werkers nie, maar weens ‘n tekort aan brandstof vir die voertuie. Die brandstof tekort is intussen uit die weg geruim en kan die werkers weer binne minute na ‘n probleem rapportering, die nodige werk verrig.

‘n Video wat deur Raadslid Franco Loots (DA) vroeër vanjaar op YouTube geplaas is oor die vermorsing van hierdie kosbare, natuurlike hulpbron deur lekkende- en stukkende pype, wat kwansuis deur die Munisipaliteit “reggemaak” is, is steurend en reflekteer swak op die Departement van Tegniese Dienste waarvan mnr Cornelius Booysen die bestuurder is. Tydens ‘n Spesiale Raadsvergadering in Februarie, is die vertoning van hierdie video deur die Burgemeester, me Patricia Mosito, summier geweier, waarna dit op die internet geplaas is.

Ten spyte van die watertekorte word daar steeds met water gemors asof dit ‘n onuitputbare bron is. Sien die video by: http://www.youtube.com/watch?v=GvFLVm4eiS0

Deur Estie Taljaard

estie@kwevoel.co.za