Vandale en grafskending in Thabazimbi

Een van die grafte wat deurgeloop het onder ‘n naby graf se oorskiet grond.

THABAZIMBI – Vandalisme is een van die grootste probleme wat deurgaans by Thabazimbi Begraafplaas ondervind word. Volgens naasbestaandes word daar gereeld op die begraafplaas toegeslaan en word die grafstene geplunder en beskadig. Selfs die blommetjies wat spesiaal veral oor naweke op die grafte neergelê word, word gesteel.

Volgens Artikel 243 van die Munisipale Ordonnansie, 1963 nr 13, se regulasies wat op begraafplase betrekking het, word die diefstal van versierings en blomme, die beskadiging en verwydering van grafstene en foto’s asook teikenskiet op grafte ten sterkste verbied en sal geensins geduld word nie.

Die begraafplaas se natuurlike ekosisteem word bewaar en daarom is die aansteek van enige vuur in die omgewing verbode.

Geen blomme of plante in die begraafplaas mag sonder die nodige toestemming gepluk, verwyder of verskuif word nie. Geen strukture mag ook ongemagtig in die begraafplaas opgerig word nie.

Die publiek word versoek om enige ongemagtigde optrede of betreders in die begraafplaas onmiddellik aan die polisie te rapporteer.

‘n Egpaar het verlede naweek al die pad vanaf Rustenburg gekom om hul ouers se grafte te besoek. Hulle was egter so geskok in die toestand van die grafte, dat hulle die Kwêvoël daarvan verwittig het.

Dit blyk dat die Munisipaliteit opgrawings vir ‘n nuwe graf naby die dubbel-graf gemaak het, maar geen voorsorg getref het om die grafte in die omliggende area te beskerm nie, sodoende is groot klippe, grond en sand op die nabye grafte gegooi wat dus die marmerblaaie gekrap en beskadig het.

Na wat verneem kon word, is daar ‘n onafhanklike kontrakteur by die begraafplaas wat die grafte se instandhouding en skoonmaak hanteer, maar is hy nie betrokke by die opgrawing van nuwe grafte nie.

“Vir my het dit as minagtend voorgekom, want hulle gee nie om wat hulle doen en hoe hulle dit doen nie.” Het die egpaar aan Kwêvoël gesê.

Geen kommentaar is vanaf die Munisipaliteit ontvang nie.

Deur Estie Taljaard

estie@kwevoel.co.za