Northam in haglike toestand

Oral in Northam lê hope vullissakke by oorvol vullishouers aangesien die vullisverwyderingstrekker reeds vir drie weke buite werking is.

NORTHAM – Volgens inwoners van Northam, is hulle geliefde dorp, wat dikwels Thabazimbi se “voorstad” genoem word, deesdae in ‘n haglike toestand.

Die probleme wat spruit uit ‘n Munisipaliteit wat blykbaar nie ‘n flenter vir die dorpsbewoners omgee nie, is oorweldigend.

Kwêvoël se fotograaf is op Maandag 19 Maart afgevaardig om die omvang van die skade op kamera vas te lê. Skokkende foto’s van hope vullis wat in die sentrale sakesentrum lê, ‘n teerpad wat geskraap is en vir ‘n geruime tyd reeds ongeteer gelaat is, het nou in ‘n grondpad verander en vullis wat in die informele nedersettings opgaar skets ‘n prentjie van ‘n dorp wat hom van sy trots ontneem is. Nog ‘n klagte wat deur Kwêvoël ontvang is, is die kerkie in die middedorp wat op Woensdae, Vrydae, Saterdae en Sondae dienste lewer. Hierdie dienste strek vanaf vroegaand tot 3:00 in die oggend en word daar geen ag geslaan op die wet op rusverstoring nie. Die steurnis is ook al telkemale by die Polisie sowel as die Munisipaliteit aangemeld, maar niemand reageer op die klag nie.

Voorts word vullis deur dorpsbewoners sommer langs die pad gestrooi aangesien hulle nie die R30 fooi by die asgate wil betaal nie.

Volgens Raadslid Piet Strydom van die DA, klop hulle op ‘n daaglikse basis aan die Munisipaliteit se deur vir ingryping, maar dit val op dowe ore. Alhoewel dit immers die Munisipaliteit se werk is om toe te sien dat die basiese dienste wel verrig word, is daar gereeld verskonings wat uitgedeel word wanneer die werk gedoen moet word, soos die vullisverwyderingstrekker wat buite werking is en die finansiële verknorsing waarin Thabazimbi Munisipaliteit homself begewe het.

In ‘n brief wat deur Raadslid Piet Strydom aan Kwêvoël gerig is vandeesweek, word daar melding gemaak van ‘n dokument waarvoor die DA alreeds drie weke lank wag waarin Thabazimbi Munisipaliteit vir Anglo Platinum die versekering gee dat hulle die watertenks vir Helen Park in Northam gereeld met water sal voorsien. Die watertenks is reeds deur Anglo Platinum Myn geskenk, aangesien die Munisipaliteit dit nie kon bekostig nie.

Op Dinsdag 19 Maart het Thabazimbi Munisipaliteit aan Kwêvoël bevestig dat hierdie dokument wel teen Donderdag 22 Maart vir Helen Park beskikbaar sal wees.

Deur Estie Taljaard

estie@kwevoel.co.za