Nekslag vir stakings

Week 13 – 30 March 2012

Anders as wat deur die ANC verkondig is, het vakbonde en stakings nie die Suid-Afrikaanse ekonomie op sy knieë gebring om die vorige regering te dwing tot ‘n skikking nie, maar is die mandaad daartoe deur die destydse geregistreerde kiesers aan die regering verleen om die skikking te onderhandel.

Ongelukkig is dieselfde wapen wat die ANC destyds gebruik het, nou besig om hom te ondermyn en die land se ekonomie te skaad. Wetgewing is tans in die pyplyn om stakings te beperk en die magte van vakbonde in te kort. Die wysigingswetgewing op arbeidsverhoudinge en basiese diensvoorwaardes is deur die kabinet goedgekeur en verlede week onthul. Dit gaan nou na ‘n jaar van gesprekvoering uiteindelik parlement toe. Mnr Zwelenzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, het vroeër vanjaar hierna as die ergste aanval op arbeidsregte sedert 1995 verwys.

Daar is een groot verskil. Voor 1994 was die ekonomie sterk en nieteenstaande sanksies het die ekonomie staande gebly. Intussen het regstellende aksie daarvoor gesorg dat ‘n groot persentasie van die werkskorps verlore gegaan het en kundigheid aan baie ander lande afgestaan is in plaas daarvan dat dit in Suid-Afrika gebly het en plaaslik aangewend is.

Ongekontroleerde stakings is deesdae aan die orde van die dag en word deur vakbonde uitgeroep sonder dat hul ‘n meerderheidsbeslissing deur stemming van hulle lede gekry het, ‘n bepaling wat in die wetgewing van voor 1995 nagekom moes word en nou weer in die wysigingswetgewing aangespreek word. Hierdie beoogde wetgewing gaan ook ‘n einde maak aan die meelopers wat nie aan die vakbond behoort nie, maar saam staak en betoog.

Stakings die afgelope jare het ‘n duidelike impak op die buitelandse siening van beleggingsvooruitsigte in Suid-Afrika. Om die minste te sê, dit is baie riskant en beleggers stuur eerder daarop af om al hul bates hier te verloor soos dit tans die geval in Zimbabwe is. Brazilië, Indië en China is vir hierdie beleggers baie meer aantreklik en minder riskant.

Werk kan nie geskep word vir mense met geen basiese werkopleiding en vaardighede nie, tensy die omgewing daarvoor aangepas word. Dit behels dat vakbonde moet afsien van onrealistiese salarisverhogings veral vir die staatsdiens- en ongeskoolde werkers.

Dringende aandag sal daaraan gegee moet word om dit vir die klein tot middel sakeondernemings die moeite werd te maak om werkers op te lei en op daardie manier meer werkgeleenthede te skep. Hierdie ondernemings word tans so met belastingheffings en arbeidswetgewing geteister dat nie een van hulle meer werkers wil aanstel of oplei nie. Dit is wêreldwyd bewys dat hierdie deel van die sakesektor die grootste werkgewer in enige ekonomie is.

Dit bly steeds die regering se verantwoordelikheid om te sorg dat die basiese opvoedkundige inrigtings en vakleerlingskole die standaard van onderwys en opvoeding bied wat van waarde is vir die land se ekonomie en sy mense.