Hentiesbaai hengelaars spog met grotes

Francois Swart met ‘n kabeljou tydens die Hentiesbaai Hengel ekspedisie.

HENTIESBAAI – Die Hentiesbaai Hengel ekspedisie wat deur die AP Kerk aangevuur is, het na verwagting gerealiseer en het 12 persone op 7 Maart die lang pad na Henties in die vroeë oggendure aangedurf.

Die nege manne en drie dames se ander twee lede het reeds vooruitgery en die span op Hentiesbaai ingewag. Hulle moes egter noodgedwonge twee ure lank wag dat die Kopfontein-grenspos oopmaak nadat hulle hul ietwat met die werksure misgis het, maar het sonder verdere oponthoud die pad voorspoedig afgelê om teen 22:30 in Hentiesbaai te arriveer.

Na ‘n goeie nagrus is die nodige hengellisensies die volgende dag bekom en aankope sover moontlik gedoen. Die hengelgerei is reggesien en die middag kon almal reeds gaan lyn natmaak. “Daar is min dinge so lekker soos vars gevangde vis vir aandete!” Skerts Ds Albert Boshoff, wat ook die ekspedisie meegemaak het.

Op Sondagoggend het hulle saam met lidmate van die plaaslike AP Kerk ‘n erediens gehad, en het ds Albert Boshoff van die AP Kerk Thabazimbi daar opgetree. Elke oggend is vroeg opgestaan om betyds by die water te kon wees om hopelik al die mooi visse te kan vang. Die hoop is dikwels beskaam … maar daar is elke dag opnuut probeer. Aan die einde van die ekspedisie is ongeveer 80 visse, meeste kabeljoue, deur die groep gevang.

Vier van die groeplede, ds Albert Boshoff, Francois Swart, Tommie Hudson en Herman Kroukamp, het elk ‘n bronshaai aan wal kon bring. Volgens hulle is dit nogal ‘n belewenis om ‘n vis van meer as 60kg met ‘n stok en lyn uit die see te trek.

Daar is ook heelwat sandhaaie en seebabers gevang alhoewel die galjoene en steenbras hulle maar skaars gehou het.

Die APK groep bedank graag almal wat die ekspedisie meegemaak het, sonder hulle meelewing sou dit vir die AP Kerk Thabazimbi nie ‘n suksesvolle aksie kon wees nie. Dankie vir voertuie wat beskikbaar gestel is om mee te ry;  baie dankie aan persone wat vooraf donasies in kontant en goedere gegee het, die APK het groot waardering daarvoor. “Volgende jaar maak ons weer so!”

Opgestel en ingestuur deur ds Albert Boshoff, AP Kerk Thabazimbi