Thaba verloor ‘n grote

Lucas Daffue (54) se plekkie in die bosveld is nou vir altyd leeg.

THABAZIMBI – Lucas Daffue (54) is op Saterdag 10 Maart in Thabazimbi oorlede.

Lucas is in Thabazimbi op 6 November 1957 gebore. Hy het sy skoolloopbaan by Frikkie Meyer voltooi en hom as plaatmetaal werker (boilermaker) bekwaam en was by Yskor vir 35 jaar werksaam.

Lucas is op 9 Januarie 1982 getroud met Petro Daffue. Uit hierdie huwelik is 3 dogters gebore, Mari, Magriet en Petro.

Die egpaar is sedert 1982 in Thabazimbi woonagtig op Spitskop Plot waar Lucas

geboer het met sy melkbeeste en braaihout, waar die kinders nogsteeds sal aangaan.

Hy is September 2010 met kanker gediagnoseer en het behandeling ontvang tot en met Januarie 2012.  Na sy 18 maande stryd, het hy op Saterdag 10 Maart stil heengegaan met sy familie by hom.

Sy begrafnisdiens vind plaas op Vrydag 16 Maart om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk Thabazimbi.

Die gemeenskap betreur sy afsterwe. Hy laat sy eggenote, Petro, sy kinders Mari, Magriet, Petro, Carel, Pieter, Hein en kleinkinders Carmi, Christi, Carlu en Hendre agter.

Hy sal altyd onthou word vir sy onbaatsugtige liefdevolle verhouding met sy gesin, die voorbeeld wat hy vir een en elkeen van hulle was. Hy was ook geken vir sy hardwerkendheid, vriendelikheid en hulpvaardigheid. “Hy was voorwaar vir elkeen van ons ‘n voorbeeld van dryfkrag en deursettingsvermoë die afgelope 18 maande.”

Sy familie bedank graag die volgende persone: “Dr Buys vir sy besoeke en behandeling by die huis, Rykie May en Lydia, woorde kan nie ons dankbaarheid beskryf nie, Rykie jy’s ‘n engel op aarde, Lucas se vriende wat hom besoek het en bygestaan het deur hierdie tyd. Al ons vriende en familie vir al julle gebede, liefde en sms’e.”

Lucas word op Vrydag 16 Maart om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk Thabazimbi begrawe.