Thaba groet groot bosvelder

Hennie du Preez (71), is op 4 Maart na ‘n kort siekbed oorlede.

THABAZIMBI – Hennie du Preez (71) is na ‘n kort siekbed op 4 Maart 2012 oorlede.

Hy was ses weke vantevore opgeneem vir ‘n rugoperasie, en was goed oppad na herstel. Na ‘n terugslag het hy egter begin verswak, waarna akute nierversaking gediagnoseer is. Hy het aanvanklik dialise ontvang, maar dit is ook later gestaak. Op 4 Maart het die groot boer van Sentrum se hart ingegee.

Hennie het as 6-jarige seuntjie saam met sy ouers vanaf Bethal na die plaas Stratford verhuis. Hy het later self geboer en het in 1989 na Potchefstroom verhuis om daar te boer.

Die verlange na die Bosveld was egter te groot en na vyf jaar trek die familie na ‘n plaas by Sentrum.

Hennie laat sy eggenote, Wilna, Hennie jnr, Mike en Lorna (sy kinders uit sy vorige huwelik) sowel as Rufus, Henk en Dirk en kleinkinders agter.

Sy begrafnis was op 9 Maart vanuit die Afrikaanse Protestantse Kerk Thabazimbi.