Ou Thaba-pionier oorlede

Mev Bessie van Biljon wat sedert 1951 tot 1978 as suster by Thabazimbi Hospitaal werksaam was, is op 21 Februarie 2012 in die ouderdom van 94 jaar oorlede.

RANDBURG – Mev. Bessie van Biljon, eggenote van wyle Oom Willie van Biljon wat vir 54 jaar by Yskor op Thabazimbi werksaam was, is Dinsdag 21 Februarie 2012 in die ouderdom van 94 jaar in die Ekklesiapark Ouetehuis in Randburg se verswaktesorg-eenheid oorlede nadat sy op die 17e opgeneem is na ‘n val uit die bed by die huis. Sy was die oudste van vier kinders, waarvan ‘n broer, Chris Potgieter (83), nog leef en op Steynsburg bly.

Tannie Bessie is op 17 Januarie 1918 in die Hanoverdistrik in die Kaapprovinsie gebore, waar sy ook gematrikuleer het. Sy het daarna haar verpleegopleiding op Aliwal Noord voltooi en oom Willie, wat daar gebore, skool gegaan en sy vakleerlingskap gedoen het, daar ontmoet. Oom Willie is na ‘n week as elektrisien in Pretoria, na Yskor Thabazimbi verplaas in  September 1941 en hy en tannie Bessie is op 21 Maart 1942 in die huwelik bevestig.

Nege jaar na haar huwelik het tannie Bessie diens as suster in die Thabazimbi-hospitaal aanvaar, waar sy tot haar aftrede in 1978 gewerk het. Sy het die grootste gedeelte van haar loopbaan in die Buite-pasiente afdeling van die hospitaal gewerk en elke Yskorwerknemer op Thabazimbi op sy personeelnommer geken! Soos oom Willie het sy ook rolbal gespeel, maar was veral lief vir tuinmaak, brei en lees.

Na oom Willie se afsterwe in 1995, het sy by haar seun, Ernie en sy vrou en kinders in Randburg gaan woon. Ten spyte van talle gesondheidsprobleme, waaronder drie miskrame, ‘n heupvervanging, verlies van sig in haar een oog en latere osteoporose wat nog ‘n heupbreuk veroorsaak het, was sy altyd positief en het feitlik nooit gekla of op ‘n hoop gaan sit nie – selfs nie eers toe haar jongste suster onlangs wreed aangerand is in haar huis in Sasolburg en as gevolg daarvan oorlede is nie.

Tannie Bessie word oorleef deur haar seun Ernie, sy vrou Elaine, en drie kinders, Willem, Ernst en Mia. Sy is veras en by oom Willie begrawe op 10 Maart 2012.