Els spring tydelik tronk vry

LOUIS TRICHARDT – ‘n Verslae Jacques Els het vandeesweek ‘n paar benoude oomblikke beleef toe hy op die drumpel van die tronk te staan gekom het.

Die 39-jarige Jan Karel Pieter Els, alombekend as Jacques, is Dinsdag tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis in die Louis Trichardt Streekhof. Hy het op 2 Maart, ingevolge ‘n pleitooreenkoms, skuldig gepleit op klagte wat verband hou met die jag, handeldryf en besit van renosterhorings sonder die nodige permitte.

Els loop ook nou die gevaar dat die Staat op sy bates kan beslag lê.

Volgens Els het hy die renosterhorings aangekoop met die oog om dit later te verkoop as die verbod op die handel in renosterhorings gelig word.

Aanvanklik het die klagte teen Els betrekking gehad op 38 renosterhorings, maar die getal is later aangepas tot 30; volgens die Streekhof is dit die meeste renosterhorings waarvoor iemand tot nog toe aangekla is.

Meeste van dié horings was afkomstig van die Maremani Natuurreservaat buite Musina. Volgens Els het hy ‘n kooptransaksie met wyle mnr Tom Fourie (51) aangegaan om die horings te koop. Die horings is van die renosters verwyder deur hulle te verdoof.

Els het aangevoer dat hy en Fourie tot dié aksie oorgegaan het om die renosters op die reservaat te beskerm teen voornemende stropers. Die geoeste horings het Els by sy woning in Thabazimbi weggesluit. Intussen, het hy te kenne gegee, sou hy dan aansoek doen vir bergingspermitte asof die horings aan hom behoort het.

Hierdie verweer is Dinsdag deur die hof verwerp. Landdros Pat Cloete het Els se gedrag as “laakbaar” beskryf. Hy het verder bygevoeg dat dit duidelik is vanuit Els se pleit dat sekere feite verswyg word.

Hy het ook gesê dat dit uiters onwaarskynlik is om te glo dat Els so ‘n edel motief gehad het as om die renosterhorings te bêre vir ‘n onbepaalde tyd en om dit dan aan ‘n oorbelaaide mark te verkoop teen ‘n onbepaalde prys.”

Hy het Els 10 jaar gevangenisstraf opgelê, waarvan twee jaar opgeskort is vir die horings wat by Fourie gekoop is. Els is ook ‘n verdere vier jaar tronkstraf opgelê weens die onwettige besit van die horings van sy eie renosters. Hierdie straf is vir vyf jaar opgeskort, op voorwaarde dat hy R1 miljoen in paaiemente van R100 000 oor 10 maande aan die Nasionale Wildlewe Misdaadreaksie-Eenheid, oftewel die Groen Skerpioene, betaal.

Els het dadelik ‘n borgaansoek gebring na die uitspraak. Hy is op R300 000 borg vrygelaat, hangende ‘n aansoek om verlof tot appèl wat hy wil indien by die hof.

Els sal ook weer op 2 Julie hier in die hof verskyn nadat die Staat te kenne gegee het dat die Nasionale Vervolgingsgesag se batebeslagleggingseenheid op Els se eiendom wil beslag lê. (LiN Nuus / Zoutpansberger)