Bleek toekoms vir kleinhandel

Week 11 – 16 March 2012

Die taende ekonomie is besig om sy gesig te wys by kleinhandelaankope. Volgens ekonome dui dit daarop dat verbruikerbesteding besig is om momentum te verloor. Geen goeie nuus vir ons verswakkende ekonomie nie.

Volgens kundiges op die gebied het die rykste verbruikers tydens die resessie die ekonomie aan die gang gehou. Volgens een van die sprekers op die afgelope navorsingskonferensie van die Suid-Afrikaanse Raad van winkelsentrums, emeritus-professor John Simpson, gaan die sowat 0,9 miljoen ryk volwassenes, wat slegs 10% van die land se belastingbetalers uitmaak, maar byna die helfte van die belasbare inkomste verteenwoordig, ‘n toenemende rol in die ekonomie se gesondheid speel. Vir die kleinhandel is dit ‘n baie belangrike bron aangesien hulle ‘n derde van die land se totale verbruikersbesteding verteenwoordig. Merkwaardig is dat 40%van hierdie groep swart verbruikers is.

In die kleinhandel word ervaar dat die produkte in die kategorieë tekstiel, klere, skoeisel en leer, gespesialiseerde voedsel, drank, tabak asook huishoudelike meubels, toerusting en toebehore die swaarste gekry het deurdat die aankope beduidend afgeneem het.

Dit het ook aan die lig gekom dat buitelandse beleggers oor hul voete val om van hul Suid-Afrikaanse aandele ontslae te raak. Hulle is duidelik bekommerd oor die groter deel wat die regering van myne se winste wil skep, asook die nasionaliseringspraatjies van die ANC Jeugliga.

Terwyl beleggers hulle uit Suid-Afrika onttrek, ‘n bedrag wat ‘n week gelede op R8,33 miljard gestaan het, het hulle ‘n netto van $7,3 miljard se Indiese aandele en $1,4 miljard se Brasiliaanse aandele gekoop. ‘n Duidelike bewys dat beleggers afgeskrik word deur Suid-Afrika se swakker ekonomiese groeikoers. – Bron: Sake24: Dinsdag 13 Maart en Donderdag 15 Maart.