71-jare Fees van Feeste Reünie – Hoër handelskool Rustenburg

Op die foto is van die komiteelede saam met tannie Christine (de Beer) van Graan (86): Danelle du Plooy(gas kunstenaar), Hildie Jonker (vd Walt), Hansie Coetzer, Tannie Christine de Beer, Anita van Zyl (du Plooy), Gerda Jonker (de jager) en Rina Steyn (Annandale).

Na maande van werk het die 71 jarige Reünie van die Hoër handelskool Rustenburg aangebreek op die 10de Maart 2012 en wat ‘n Fees was dit nie.  Die  reünie was oop vir almal wat in die Hoër Handelskool Rustenburg was, vanaf 1941 tot en met 1977 toe die skool gesluit is en dit Grenville High geword het. 71 jaar se feesvieringe en samekoms.

Tannie Christine (de Beer) van Graan, weduwee van wyle Oom Jannie van Graan van JF van Graan en van der Wateren Prokureurs op Thabazimbi,  was een van die eerste leerlinge van die Hoër Handelskool Rustenburg. Tannie Christine de Beer, nou 86 jaar oud en vir die afgelope twee jaar weereens ‘n inwoner van Thabazimbi, vertel van hoe sy vanuit Zeerust, via Rustenburg uiteindelik op Thabazimbi te lande gekom het. Hier volg haar storie:

” Nadat ek standerd 8  geslaag het, het my ma op ‘n manier ‘n koerant in die hande gekry waarin vertel word dat die Reddingsdaadbond op Rustenburg begin met ‘n handelskool om al die arm kinders te help wie nie geld gehad het om verder te  gaan leer nie.  Ons het toe op Zeerust gewoon. Iewers in Januarie 1940 het my ouers my na Rustenburg geneem waar ek as leerling ingeskryf is. Ons eerste skooldag het begin in die ou Krugerkoskuis van Rustenburg Hoërskool,  geleë aan die agterkant van die Grand Hotel, oorkant die poskantoor met die Dopper Kerk van ds Kotze net oor die straat.  Daar het ons van die personeel ontmoet.

Mnr Gommie Loots het die lys van leerlinge  gehad.  My eerste kamermaats was Anna Ericson, Licia Lessing en Truia van Rensburg.  Ons skool was nie ‘n geboude skool nie. ‘n Pakhuis wat deel uitgemaak het van United Tobacco Company se ou store, is as klaskamer ingerig.

Mej Hester van Zyl was die tik- en snelskrif onnie.  Ons het getik op Remmingtons en Underwoords.  Ons moes elke dag “a” “s” “d” “f” op die tikmasjiene. Gou-gou het ons ook 60, 80, 100 en 120 woorde per minuut snelskrif en shorthand geskryf.  Ons eerste prinsipaal was meneer Loubscher.  Hy was regop en was ‘n man wat mooi kon aantrek.  Hy is later ontslaan omdat sy “papiere” nie reg was nie.

Die onderwysers van die Hoërskool Rustenburg het kom uithelp, maar ge-tik en ge-snelskrif en shorthand het ons gedoen. In daardie tyd was die “upsweaps” in die mode en ek en ‘n ander jong meisie met die van van Rex, het altyd mekaar so in hierdie “upsweaps” gekam.

Saterdae aande mag ons saam met die seuns op die grasperkte sit en sterretjies tel, op een voorwaarde: rug teen rug en behoed die een wat die reël breek. Ons het geen sosiale lewe gehad nie.  In die avokadopeer en luwartbome rond geklouter. Ons was arm en het die gevoel gekry dat die ander skole op ons neergesien het.

Met die Reünie is net die teendeel egter bewys, uit die 71 jaar wat die skool bestaan het, het daar 4 advokate, 2 mediese dokter, ‘n bekende aktrise,  myn bestuurder, prokureurs, boedelberedderaars, onderwysers en ryk boere gematrikuleer.”

Van die ander Thabazimbiërs wat op gemerk is het ingesluit Bettie Lourens (nooiensvan), Ria Marx, Kotie Joubert en Gertie Denton

Die Reëlings Komitee wil Tannie Christine se Kinders, Rachel Butler en Jannie van Graan Van harte bedank dat hulle haar van Thabazimbi af Rustenburg toe gebring het om die Fees saam met ons te kom geniet.  Ons wens Tannie nog vele geseënde en gesonder jare toe en sonder tannie sou die reünie nie so ‘n sukses gewees het nie.