KunsteGrot sê Dankie en Asseblief!

Oor Saterdag 25 Februarie se heerlike, woeste reënbui is ons almal baie bly. Ongelukkig  daarmee saam  ‘n paar minder lekker insidente! Die KunsteGrot se kombuis en dameskleedkamer was onder water – wat ons nie kon uitkry nie, dit het net bly insypel! Duisend dankies aan Deidré, Rina en Rudolph wat met uitgaanklere en al, gewapen met mop en handdoeke, help red het. Gelukkig teen half-sewe was “waterloo” gewen. Julle is net die beste!

Teen 18:30 begin die teatergangers aankom – en die krag is af! Wel, stoele uitdra met ‘n sjerrie in die hand – en almal kuier lekker. Baie dankie aan elkeen wat daar was, vir verstaan en ondersteun én dat julle wel opgedaag het. Ook ‘n groot woord van dank aan staatmaker Alet van Pick ‘n Pay vir al die moeite en heerlike vrugteslaai en roomys, wat ons toe maar vóór in plaas van nà die vertoning geniet het.  Sommer nog ‘n dankie aan Pick ‘n Pay vir julle ondersteuning – is so bly ons kan voort gaan! Aan Super Spar vir die middag-eetgoedjies, Butler vir die aandete en Hardekool Gastehuis vir die huisvesting van die kunstenaars. Hannes, Francois en Diana – julle ondersteuning is vir ons goud werd. Nou sommer aan al ons ander donateurs en almal wat iewers met iets gehelp het – baie dankie! ‘n Spesiale dankie aan Cornelius Booysen van die Munisipaliteit vir sy positiewe ondersteuning. Almal was darem baie bly toe die krag aankom en ons teen kwart voor agt met die vertoning kon begin.

Nou ‘n groot asseblief! Almal wat vir Chris Chameleon se vertoning op 20 Maart bespreek het en nog nie betaal het nie – Maandag, 12 Maart is die sperdatum vir betalings. Anders word die bespreking as gekanselleer beskou. In die toekoms sal alle besprekings slegs met ontvangs van betaling gedoen word. Bewys van  Internet betalings binne 48 uur na die bespreking. Ek doen ‘n dringende beroep op ons mense om my te help in die saak. Dis baie sleg as mense bespreek, nie opdaag en nie betaal. Die betaling van die kunstenaars berus op die aantal besprekings, en elke keer verloor ek as gevolg daarvan. Ons probeer so hard om ordentlike vermaak na Thabazimbi te bring, ondersteun ons asseblief.

Dankie nogmaals aan die Kwêvoël vir die afgelope 6 jaar se lekker samewerking – hoop daar is nog ‘n lang paadjie vorentoe!

 

Rita Volschenk – KunsteGrot