Frikkiesaal vol hartjies

Die kroonpare van HFM se Gr 11 Valentynsokkie vlnr: Tanja Marais (tweedeprinses), Carla Viljoen (eersteprinses), Kayla Watson (Mej Valentyn 2012), Karin Richter (beoordelaar), JM Erasmus (Mnr Valentyn 2012), Renaldo Nortjé (eerste prins) en Adriaan de Lange (tweede prins).

THABAZIMBI – Die Graad 11’s van HFM het op Dinsdag 21 Februarie hul jaarlikse Valentynsokkie, ten bate van die Matriekfafskeidfonds, aangebied.

Volgens die organiseerders was die Valentynsokkie, wat bietjie anders as vorige jare benader is, ‘n geweldige sukses.

Die dekor het die Valentyntema skitterend deurgevoer. Helium gevulde ballonne het van die dak gehang, ‘n borrelsmasjien het deurlopend borrels geblaas en ‘n rookmasjien het aan die saal ‘n mistige en romantiese voorkoms verleen.

Rooi en wit harte met blinkers was oral teen die saalmure te bespeur terwyl lanterns met harte by die ingang die nostalgie van romanse voortgesit het.

Dirk van der Westhuizen was die vermaaklikheidskunstenaar wat ‘n musiekvertoning vir die leerlinge gelewer het.

Hope pret en kompetisies soos “spot” dans en hoededans was aan die orde van die dag met die hoogtepunt van die aand, die kroning van Mnr en Mej Valentyn.

Daar was ook ‘n spesiale fotohoekie met ‘n pragtige Valentynsbankie, blomme en liggie boog wat die intieme atmosfeer geskep het, waar die leerlinge kon foto’s neem. Die foto’s was dadelik uitgedruk en beskikbaar.

Die opkoms was baie goed en die verrigtinge is met sukses aangepak. Elke ouer, onderwyser en leerling wat die aand moontlik gemaak het word bedank vir hul insette en harde werk asook die borge vir hulle onbaatsugtige bydrae tot die aand. Foto: Annabelle Tromp.