Versorging van katte

Deur Marthie Dippenaar, TAR

THABAZIMBI – Vlooie is nie net lastig en grillerig nie, hulle dra soms passasiers, soos lintwurms en ander skadelike mikro-organismes, met hulle saam.  Sodra ‘n kat begin krap, al is daar nog nie vlooie sigbaar nie, behoort hy/sy behandel te word met ‘n produk spesiaal vir katte.  Katte mag nooit met honde dipmiddels gebad word nie.  Die chemikalieë in middels wat vir honde bedoel is, is sterker as dié vir katte. Voorbeelde hiervan is produkte wat chemikalieë soos permethrin of methoprene bevat.

In 2001 het honderde kateienaars regoor die wêreld hulle katte verloor as gevolg van ‘n katdip wat beide hierdie middels bevat het. Simptome van permethrin toxicosis, soos hierdie vergiftiging nou bekend is, is onbeheerbare sametrekkings van die spiere, byvoorbeeld ore wat aanhoudend “twitch”, onvasheid op die voete, bekend as ataxia en aanvalle wat aan epilepsie herinner.  Hipotermie ontstaan later en die kat se hoë koors kan dan tot sy dood lei.

‘n Veilige middel om vir katte te gebruik, is produkte wat imidacloprid as aktiewe bestanddeel gebruik. Sulke produkte kan vir volwasse katte sowel as kleintjies gebruik word.

Al word dit wyd gebruik, word vlooibandjies nie vir katte aanbeveel nie. Baie van die vlooibandjies bevat juis permethrin en/of methoprene.

Die belangrikste om dus te onthou, is dat alle inligtingsblaadjies van enige produk sorgvuldig gelees moet word.

Onthou: Net omdat albei diere is, beteken nie dat ‘n kat en ‘n hond dieselfde produkte kan gebruik nie! Dieselfde geld vir voëls en katte. Elke dier is uniek en het unieke produkte nodig waarmee hy behandel moet word.